Ons geestelike lewe vra inderdaad ook selfdissipline.
Sonder roetine in jou geestelike lewe vorder jy nie veel
in die regte rigting nie. Om vir die Here te leef is nie maar
net iets wat vanself kom nie. Ons staan gereeld voor
doelbewuste keuses. Ons weet dan nie noodwendig
instinktief wat die regte ding is om te doen nie. Ons moet
weet wat God in sy Woord van ons vra. Ons moet doelbewus
aan Hom gehoorsaam wees.

‘n Sterk geestelike lewe is die resultaat van gereelde tyd saam
met God. Gereelde doelbewuste oefening in God se gimnasium
maak ons geestelike spiere sterk. Dissipline beteken reëlmaat.
Dit vra ‘n geestelike ritme van stil tye saam met God.

Selfdissipline kom van binne af. Ons moet innerlik gemotiveerd
wees om te doen wat God vra. Eksterne druk van buite af om dinge
vir die Here te doen en vir Hom te leef is nie volhoubaar nie.
Dreigemente soos dat God jou gaan straf, of emosionele druk van
die kant van ander gelowiges af, gaan net ‘n rukkie werk.

Hoe kan ons nou volhou met die innerlike oortuiging om vas te byt
in geestelike dissipline? Dit gebeur net as jy jou regtig oopstel vir die
leiding van die Heilige Gees. Hoe meer jy op die Heilige Gees ingestel
is om onder sy beheer te leef, hoe meer groei jy hierin. Hy oortuig jou
meer en meer om die regte dinge vir God te doen en vol te hou met
bewustelike kontak met God in alleen-tye saam met God.

Net die Heilige Gees steek ‘n vuur in jou aan wat maak dat jy ‘n opregte
honger het om by God te wees. Die Gees bring ‘n dors in jou wat tot
gevolg het dat jy soos ‘n wildsbok in die dorre woestyn smag na die
lewende water van God, elke dag! Dit is dan jou kos en jou drank om
die Woord te lees en by God te sit om jou honger en dors te stil.
Dan is selfdissipline nie ‘n swaar las waarmee jy elke dag worstel as ‘n
goeie daad wat jy moet doen nie. Dit is die teenoorgestelde!
Jy smag daarna om jou honger en dors te stil en jy verlustig jou in die
spys en drank van die Woord en nabyheid by God. Die stil-word tye by
God word die hoogtepunte van jou dag en jy beleef daarin sy krag!
So vloei hierdie selfdissipline oor na die detail van jou lewe. Hoe jy dink
en praat, en optree. Jou ganse menswees kom in die fynste detail onder
die Heilige Gees se beheer. Jy kan en wil nooit weer anders leef nie!

Ernest