Dit is maklik om jou lewe in kompartemente in te deel
wat op die oog af niks met mekaar verband het nie.
So kan ons byvoorbeeld Sondae sien as ons kerklike
kompartement. Maandag tot Vrydag is die werk se
kompartement. Saterdag is die vriende se kompartement.

Dan tree ons verder nog ook verskillend op binne hierdie
kompartemente. Jy is ‘n ander persoon op Sondag by die
kerk as in die week by jou werk. Jy is ook ‘n ander persoon
by jou vriende op die golfbaan of om ‘n braaivleisvuur,
as by jou huis en jou gesin. Daar is dan ook verskillende
stelle reëls vir die verskillende kompartemente.

Selfgedissiplineerde Christene het nie verskillende
kompartemente met verskillende reëls in hulle lewe nie.
Hulle dra konsekwent die vrug van die Gees waarvan
selfdissipline kenmerkend ‘n deel is:
“Die vrug van die Gees, daarteenoor, is liefde, vreugde,
vrede, geduld, vriendelikheid, goedhartigheid, getrouheid,
nederigheid en selfbeheersing.” – Gal. 5:22-23.

‘n Selfgedissiplineerde kind van God is konsekwent.
Die vrug van die Gees raak hulle hele lewe. Dit ís hulle lewe
in die mees gewone dinge van die lewe. Hoe en hoeveel hulle eet.
Fiksheid of luiheid. Gesond leef of mors met die lewe. Jou liggaam
as tempel van God of nie. Passief voor die TV, sonder tyd saam met
God in stiltyd. Opbouende tye saam met familie en vriende, of tye
wat liggaam en gees verniel saam met verkeerde mense.

Dink weer oor jou leefwyse. Elkeen weet wat moet verander in terme
van dissipline en dit wat die Here vra. Neem vandag jou besluit in
afhanklikheid van God en laat die Heilige Gees jou lei om die ware
lewe te leef, en dit in oorvloed! Dit is wat Jesus bedoel om vir jou te gee!

Ernest