God is die uitdeler van vreugde! Ware vreugde is regtig
net by Hom te kry. Dit is die diepste van alle vreugde en
dit is ewige vreugde ten spyte van omstandighede.
God is die God van blydskap.
Die jammerte, eintlik tragiese, is dat min Christene oorloop
van vreugde. Dit is egter net ons eie skuld omdat ons so maklik
toelaat dat ons omstandighede bepalend is vir ons vreugde.
Ons kan arms vol vreugde gratis by God kry, maar ons laat toe
dat ons omstandighede ons lewe beheers. Vreugde is onmiddellik
op aanvraag by God beskikbaar! Let op: Bý God, is vreugde!
Daar is altyd nog en nog vreugde by God. Om arm te leef aan
vreugde is ons eie skuld. Ons kan nooit God se vreugde wat Hy
aan ons gee opgebruik nie.
Ons is egter meesters van bekommernis. Ons blink uit daarin om
bekommerd te wees. Bekommernis belemmer God se soort vreugde.
Verder verwar ons ook God se vreugde met die soort vreugde wat ons
in die wêreld rondom ons sien. Mense wat God nie ken nie, ervaar ook
vreugde, maar dit is ‘n ander soort vreugde as die vreugde wat God gee.
Die wêreld se vreugde is afhanklik van omstandighede.
God se vreugde is nooit afhanklik van omstandighede nie. Dink maar net
aan Paulus se omstandighede wanneer hy in Filippense in die tronk sit en
in Filippense 4:4 skryf: “Wees altyd bly in die Here! Ek herhaal: Wees bly!”
In die donkerste donker leef ons steeds in God se lig. God los sy kinders in
geen omstandighede alleen nie. God se kinders leef ook met die wete dat
hoegenaamd niks hulle kan skei van die liefde van God in Christus nie.
Om saam met God te leef laat ons vreugde ook al hoe meer toeneem as
‘n werklikheid. Dit is soos ‘n dam wat al voller en voller word.
Daar is die treffende gebed van ‘n Christen in Wes Afrika:
“Ek gooi my vreugde soos voëls in die lug op, Here, omdat ‘n nuwe dag
singend voor my oopgaan! Dit tjirp en kwetter van U liefde.
U genade skitter in elke uur. Here, goeie God, U maak elke dag!”
Leef elke dag in die vreugde van God!
Ernest