Dink net hoe saai die lewe sou gewees het as ons nie
vreugde ervaar het nie. Vreugde tel ons regtig op.
Vreugde gee aan die lewe ‘n huppel in die stap.
Dit maak dat jy die lewe met ‘n ander perspektief sien
en ervaar. As dit in die algemeen waar is in die lewe,
hoeveel te meer moet dit nie waar wees in die lewe
van kinders van God nie! Ons dien immers die God wat ware
en blywende vreugde gee, ten spyte van omstandighede.

Kyk net na enkele punte wat Hy in jou lewe gedoen het en
waarom jy dus met ware vreugde kan lewe:
Ons sonde tel nie meer nie. Jesus het klaar ten volle betaal.
Die Heilige Gees is elke dag by ons en lei ons in die waarheid.
Ons het die ewige lewe. Ons is op pad na God se nuwe wêreld.
Ons is deel van die kerk, die liggaam van Jesus op aarde.
Die Heilige Gees is die waarborg van ons erfenis by God.

Ons sou die lysie nog baie langer kon maak. Ons het alle rede om
met vreugde te leef. Ons leef nou reeds ons gewaarborgde toekoms.
Ons het werklik nie rede om te kla en met lang gesigte rond te loop nie.
Ons moet eintlik voor die Here bely dat ons so min van die vreugde
in Hom uitleef. Vreugde is immers deel van die vrug van die Gees wat
ons uitleef. Romeine 14:17: “Die koninkryk van God is nie ‘n saak van
eet en drink nie, maar van gehoorsaamheid aan God, vrede en vreugde,
wat die Heilige Gees ons gee.”

Ernest