Ons dink so maklik dat môre ‘n beter dag sal wees.
So laat ons dikwels vandag by ons verbyglip sonder om
voluit met vreugde te lewe. Ons laat eintlik die oomblikke
waarin ons leef deur ons vingers glip. Ons sien heeltyd uit
na ‘n beter toekoms met ‘n beter ekonomie, misdaad wat
afneem, meer tyd saam met vriende en familie, meer tyd
saam met God...
God gee lewe net een dag op ‘n slag! Ons moet dit ook voluit
so lewe, een dag op ‘n slag. Ons het altyd ‘n keuse wat ons met
vandag gaan doen. Ons is nie bloot slagoffers van ons omstandighede
nie. Terwyl ons vandag lewe, moet ons voluit met vreugde lewe.
Ons het geen waarborg van môre nie.
God vra dat ons sal kies vir die lewe in Hom. Die lewe van vreugde
in Hom. Ons moet dit leef in die kleinste detail van die alledaagse.
Vind vreugde in jou kinders en kleinkinders wat jy vandag sien.
Leef vandag God se skatte in jou lewe raak. Waardeer jou ouers.
Waardeer hulle jare se versorging van jou. Gaan drink koffie saam
met ‘n goeie vriend. Vier die lewe saam met goeie vriende en
medegelowiges. God laat die lewe daar bruis. Prediker 5:19:
“So ‘n mens dink skaars na oor wat in sy lewe gebeur,
so vol is hy van die blydskap wat God gee.”
Moenie net vir môre leef nie. Die lewe gaan so by jou verby en
môre gaan nooit vir jou aanbreek nie. God gee net vandag vir jou.
Leef elke dag afhanklik van Hom. So het Jesus ons leer bid.
Leef vandag die vreugde wat God gee. Elke dag wat jy deur jou
vingers laat glip, is die lewe wat deur jou vingers glip. As jy nie
vandag met vreugde leef nie, sal dit ook nie môre en oormôre
gebeur nie. Weet dit. Of jy lééf die lewe,
of jy laat toe dat die lewe jou opleef.
Ernest