Ons moet reg wag op die Here om die stilte te ervaar wat
die Here wil gee. Om stil te wees by die Here vra die regte
manier van wag.
Die moderne mens hou nie van een van die twee dinge nie.
Ons wil nie wag nie, en ons wil nie stil wees nie. Om te wag,
is vir ons ‘n mors van kosbare tyd. Om stil te wees, is vir ons
amper ondenkbaar. Ons leef in ‘n gejaagde tyd. Ons leef ook
in die tyd van klank, geraas en beelde.

Tog praat God dikwels in stilte. Dink maar aan die profeet Elia,
waar God Hom aan Elia openbaar in ‘n fluistering in die windstilte.
God praat ook wanneer die tyd reg is, wanneer sy tyd reg is.
Daarom is rustigheid en stilte, en wag so nodig.

Stilte kom maar moeilik in enige gelowige se lewe. Daarvoor is ons
net te gewoond aan geraas en gejaagdheid rondom ons. Dikwels
speel die TV en niemand kyk eers daarna nie. Om onsself af te sny
van die wêreld rondom ons vra oefening. Ons moet begin deur die
klanke rondom ons uit te doof waaroor ons beheer het, wanneer
ons by God stil raak. Kies ‘n eenkant plekkie in die huis of tuin.
Dit help ook om pen en papier byderhand te hê vir dit wat jy wil
neerskryf om ook later weer te oordink en oor te bid.

Stil-word voor God vra egter meer as om net geraas uit die pad te kry.
Dit vra ‘n lewens-ingesteldheid van wag met rustigheid. Ons kan nie
haastig wag op die Here nie. Ons verstaan dit goed want ons sit dikwels
haastig en wag in die motor op mense in die winkel, of in die verkeer.
Haastig wag op die Here is verkeerde wag. Haastig wag gaan oor jouself.
Wanneer ons leer om reg te wag op die Here, en nie haastig te wees nie,
word ons ook makliker stil voor die Here. Ons kan nie “net gou” stil raak
voor die Here nie.

Ons wag ook nie op dinge om te gebeur wanneer ons voor God wag nie.
Ons wag in die eerste plek op God self. Hy is die doel van ons wag.
Ons wag byvoorbeeld nie op die verhoring van gebedsversoeke nadat
ons ‘n lysie aan Hom bekend gemaak het nie. Ons wag altyd in die eerste
plek op God. Wanneer ons besef ons is in die teenwoordigheid van die
almagtige God, is dit ook makliker om op Hom te wag.

Wag op die Here is ook “vertroue” op die Here. Psalm 27 :14 word in die
1953 vertaling so vertaal: “Wag op die Here! Wees sterk en laat jou hart
sterk wees! Ja, wag op die Here!” In die 1983 vertaling word die woord
“vertroue” gebruik: “Vertrou op die Here! Wees sterk en hou goeie moed!
Ja,vertrou op die Here!” Dit kan ook vertaal word met “hoop” op die Here.

Belangrik: Hierdie wag op die Here is nie ‘n passiewe wag op die Here nie,
maar ‘n aktiewe wag op die Here. Die Engelse is “vigilant”.
Wag op die Here is om in ‘n geestelike ingesteldheid van gereedheid
en ontvanklikheid vir die lewende God te wees.
Só wag ons reg op die Here.

Ernest