Psalm 130:5-7 sê treffend: “Ek stel my vertroue in die Here,
ek vertrou op Hom, ek wag op die vervulling van sy woord.
Ek wag op die Here, meer as wat die wagte op die môre wag,
wagte op die môre. Wag op die Here...”
Die wagte het op die stadsmure wag gehou. Hulle moes aktief
en wakker wag hou, en wag op die môre met hoop en vertroue.
Dit is hoe ons ook op die Here wag. Aktief, met hoop en vertroue.

Om op God te wag vra leeuemoed. Jy moet stroomop kan swem.
Dit is alles behalwe passief. Neem maar vir Noag. Toe hy die ark
begin bou het, het almal vir hom gelag. Maar Noag was bereid om
te werk en op die Here te wag met vertroue en hoop. Aktiewe
vertroue en aktiewe hoop. Aktiewe wag op die Here. Maar beslis
nie haastige wag op die Here nie.

Om aktief op God te wag leer jou so baie dinge oor God en jouself.
Jy leer om jou pas met die pas van God te sinkroniseer. Jy leer dat
die lewe om God gaan en nie om jou nie. Om op God te wag maak
jou rustiger, want jy is dikwels besiger as wat God jou wil hê,
en juis daarom het jy nie tyd om op God te wag nie. Jy ontdek ook
nuwe dinge in jouself wanneer jy op God wag. Dit laat jou besef jy
kan vasbyt in jou geloof, soos met Noag. Jy besef ook jy kan, in Christus,
die sonde aandurf en daaroor triomfeer. Jy besef jy kry dit reg om stil
te word te midde van al die geraas en gejaagdheid rondom jou.
Om op God te wag maak ook jou oë meer oop vir die maniere hoe
God werk. Jy leer al hoe meer hoe om God se roete te vind en te volg.
Jy ontdek ook dat daar baie meer krag in jou lewe is as wat jy gedink het,
krag wat van die Heilige Gees kom, God se soort krag. Want om te wag,
is ook om doelbewus jouself onder beheer van die Heilige Gees te plaas.

Nederig, sonder hoogmoed, sonder selfverheffing, wag jy op die Here.
Psalm 131 beklemtoon dit: “Selfverheffing en hoogmoed is daar nie by
my nie, Here. Ek maak my nie besorg oor groot dinge nie, dinge wat bo
my vermoë is. Ek het rus en kalmte gevind. Soos ‘n kindjie wat by sy
moeder tevredenheid gevind het, so het ek tevredenheid gevind.
Wag op die Here...nou en vir altyd.”

Jy wag nie op iets nie. Jy wag op Iemand. Dit is opwindend!
Hy sál jou tegemoet tree. Verseker. Dit is hoe God is.
Hy laat jou nooit verniet wag nie. Elkeen wat nederig,
sonder selfverheffing en hoogmoed, op Hom wag,
vind Hom. Elkeen!

Ernest