Liefde vorm die hart van die Christendom.
Liefde is die waarmerk, die handtekening op elke
opregte gelowige se lewe. Liefde is nie maar net ‘n
emosie of goeie gevoel binne in jou nie. Liefde is die
ingesteldheid van absolute lojaliteit teenoor God en
almal wat Hy op jou pad stuur. Alle mense op jou pad.
Daarom word liefde net in aksie gesien. Liefde sonder
aksie is nie sigbaar nie. Dit help veel jy sê jy het ander
mense lief, maar jou dade bewys dit nie. Dit is ‘n klug!

Liefde se oorsprong is by God alleen. Hy is die God van liefde.
Dit word absoluut bewys aan die kruis op Golgota. God se liefde
is nie maar net retoriek nie. Jesus is die handtekening op God se
liefde, en hierdie liefde is vir sondaars bedoel! Dit is hoe God is.
God het mense lief wat rebelleer teen die hemel. Mense wat glad
nie van Hom hou nie. Op ‘n dag het Hy ook ons oorrompel met sy
liefde! Ons wat eers sy vyande was, en goddeloos was. Almal het
gesondig en is ver van God af, sê Romeine 3:23. Ons was inderdaad
vyande van God! Romeine 5:10 sê: “Aangesien ons, toe ons nog
vyande was, deur die dood van sy Seun met God versoen is, staan
dit soveel vaster dat ons, noudat ons versoen is, deur die lewe van
sy Seun gered sal word.” Dit is liefde! Dat God in Christus, ons,
sy vyande, met Hom versoen! God is liefde! – 1 Joh. 4:8.

Wanneer jy in God glo, moet jou lewe sy liefde weerspieël!
Moenie jouself bluf nie. Wie nie liefhet nie, het geen kennis
van God nie!...want God is liefde – 1 Joh. 4:8.
Vers 20 gaan verder: “As iemand sê: “Ek het God lief”, en hy haat
sy broer, is hy ‘n leuenaar...” Ons bedrieg onsself as ons ander mense
haat terwyl ons sê dat ons kinders van God is. Dan is ons lewe ‘n klug.
Ons weerspreek dan wat ons bely. Ons lieg dan vir onsself!

Om lief te hê is nie ‘n opsie nie. Dit is nie ‘n emosie nie.
Dit is ‘n daad van jou wil! Jou lewe is in God se liefde geanker.
Daarin gewortel. Groei daaruit, en kan nie anders as om die vrug van
die Gees te dra nie – Gal. 5:22-23.
Jy kan nie anders nie, want dit is nie meer jy wat leef nie,
maar Christus in jou! – Gal. 2:20.
Kind van God? God se liefde vloei dan deur jou!
Verseker!

Ernest