Die liefde wat God oor sy kinders uitstort is ‘n onselfsugtige liefde.
Dit is nie opeisend nie. God se liefde, waarmee ons geseën en
toegerus word deur die Heilige Gees is ‘n liefde wat uitreik,
wat weggee, wat opoffer. Hierdie liefde is ook nie net gerig op
sekere mense nie. Die Bybel gee ons nie die luukse om maar net
die mense lief te hê wat ons liefhet nie, of net die lief te hê wat
goed doen aan ons nie. God se liefde is nie reaktief nie. God se
liefde is kreatief. So ook ons liefde vir ons medemens. Liefde vir
ons medemens kom eerste van ons kant af, ongeag.

Wanneer ons die liefde van God in ons vrye teuels gee,
kom ons makliker met ander mense oor die weg. Ons begin
ook ‘n innerlike krag uitstraal wat sigbaar is in ons optrede.
Ons is ook rustiger en het meer selfbeheersing. Ander mense
kom die verandering in jou agter. Die rede is dat jy iets vir hulle
begin beteken sonder om self in die kollig te staan.
Jy begin blydskap en hoop in mense se lewens bring.

Ons laat so maklik na om God se liefde uit te leef. In plaas daarvan
dat ons aangevuur word deur die passie om vir ander iets te beteken,
kies ons so maklik om uiterlike dinge te hê, wat deur ander mense
begeer word. Mense kies maklik vir materiële dinge in plaas van vir
God se goud. Baie gelowiges is ook op soek na die erkenning en
goedkeuring van ander, in plaas daarvan om pro-kreatief ‘n verskil te
maak in ander mense se lewens.

Wanneer jou gevoel van selfwaarde, jou identiteit, afhanklik is van
ander mense se opinie oor jou, gaan jy nooit God se liefde uitgeleef
kry nie. God se liefde hou nie boek van wat ander oor jou dink of
sê nie – 1 Kor 13:5.
Jy doen wat jy doen omdat God dit van jou vra. “Wat julle ook al doen,
doen dit van harte soos vir die Here en nie vir mense nie...” – Kol. 3:23.
Jy vind hierin jou eiewaarde en identiteit voor God en in dit wat jy vir
Hom doen. Jy vind jou identiteit in Christus. Jou grootste vreugde
in die lewe is om die liefde uit te leef wat Hy van jou vra!

Ernest