Liefde praat met wysheid en nie met ligsinnigheid nie.
Ons woorde is soms soos kanonskote wat onberekenbare
skade aanrig. Ons praat ander mense aan flarde sonder om
mooi te dink wat ons sê en watter skade dit gaan aanrig.
Liefde kom nie ander mense agter hulle rug by met
lemmetjiesdraad woorde nie. Woorde van liefde praat
woorde van wysheid. Liefde kies woorde versigtig.
Liefde tel woorde.

Hoe meer jy op God se pad van liefde leef, hoe meer raak God
ook jou tong aan. God verwag van sy kinders om die taal van
liefde en wysheid aan te leer. Trek die angel uit jou woorde.
Ons woorde moet soos koel water op ‘n snikhete warm dag wees.
Dit moet woede laat bedaar. Dit moet kalmte bring. Ons woorde
moet genees en nie sny nie.

Om een of ander rede dink mense dit is “cool” om sekere taal te
gebruik. Jy is in. Gekruide taal maak jou gewild en een van “ons”.
Vir die Here is dit allesbehalwe.
Paulus skryf in Efesiërs in hoofstuk 4 dat bitter woorde nie oor ons
lippe gehoor moet word nie. In vers 29 vertaal Die Boodskap dit so:
“Moet ook nie allerhande vuil grappe vertel of lelike praatjies maak
nie. As julle iets sê, moet dit iets wees wat die moeite werd is om te
sê en vir ander iets beteken. Kyk wat nodig en goed is om in die
omstandighede te sê en sê dit dan.”
Ons woorde moet met liefde en in wysheid gesê word.
Ons liefde moet ‘n taal wees wat die wêreld rondom ons ‘n beter
plek maak. Liefde praat met wysheid.

Ernest