Romeine 12:1-2: “En nou doen ek ‘n beroep op julle,
broers, op grond van die groot ontferming van God:
Gee julleself aan God as lewende en heilige offers wat
vir Hom aanneemlik is. Dit is die wesentlike van die godsdiens
wat julle moet beoefen. Julle moenie aan hierdie sondige wêreld
gelyk word nie, maar laat God julle verander deur julle denke te
vernuwe. Dan sal julle ook kan onderskei wat die wil van God is,
wat vir Hom goed en aanneemlik en volmaak is.”

Ons word opgeroep om heilig te wees en heilig te leef. Hoekom?
Daar is net een rede: God verwag dit van ons. God verwag dit van
al sy kinders. Om heilig te leef is ‘n opdrag aan alle Christene.
Daar bestaan nie ‘n klein groepie uitgesoektes wat kwalifiseer as
heiliges nie. God reken al sy kinders tot heiliges. Ons bely ook in
die Apostoliese Geloofsbelydenis: “Ek glo aan ‘n heilige, algemene,
Christelike kerk, die gemeenskap van die heiliges;” God reken die
geloofsgemeenskap, sy kinders, as heilig.

Omdat God heilig is, verwag Hy ook van ons, sy kinders,
om heilig te wees. 1 Petrus 1:16: “Daar staan immers geskrywe:
“Wees heilig, want Ek is heilig.”
God is die Allerheilige. Daarom kan niemand van ons voor Hom
staan nie. Dit oorweldig ons. En tog praat hierdie Allerheilige en
almagtige God met ons! Hy buig af om ons uit die verderf op te tel.
Hy laat ons toe om na Hom toe te kom, maar dan moet ons in Jesus
se Naam na Hom toe kom. Slegs wanneer ons in Christus gereinig is,
kan ons nader kom na God toe.

Wanneer ons voor God verskyn, hoor ons dat sy heiligheid in ons
ganse bestaan sigbaar moet word. Ons moet lewende en heilige
offers wees wat vir Hom aanneemlik is. Dit kan slegs in Christus gebeur.
Jesus se offer aan die kruis maak dit vir ons moontlik om lewende en
heilige offers te wees. Deur in Jesus Christus te glo, is ons in Hom en
Christus in ons. Ons kan slegs só as lewende en heilige offers, aan God
toegewy, lewe. Die dooie offers van die Ou Testament is verby.
Nou vra God die lewe van sy kinders as toegewyde offer aan Hom.
Die enigste aanvaarbare offer vir Hom, is ‘n lewe wat heilig en toegewy
aan Hom leef. God word verheerlik wanneer sy kinders se lewe iets van
sy grootheid en heiligheid weerkaats.

God reken jou, as kind van God, ook as heilig. Maar jy moet dit nou
ook gaan leef en getuig. Jy moet dit in jou elke dag se werklikheid
gaan uitleef. Wees heilig!

Ernest