“Die uitkoms is hier! Die uitkoms is hier!” So moes God
se boodskapper dit uitroep in Jesaja 40:1. Ons leef ook tans
in baie moeilike omstandighede, wêreldwyd. Ons kan lang
lyste daarvan maak. Die vraag is of ons daarteen vaskyk en
uitsig verloor het, en of ons steeds leef met die visie en die
lewende hoop waarvan 1 Petrus 1:3 praat. Ons lewende hoop
is nie net op wêreldse omstandighede gerig nie!
Natuurlik is vandag die dag. Ons moet vandag vir God leef.
Dit gaan nie oor ‘n “ontsnapping” na die toekoms toe nie.
Hier en nou is dit genadetyd. Verlossingstyd. Daar is geen
beter tyd as nou nie. Dit is die tyd waarin ons moet leef!
Lééf! Al die sonstrale van God se goedheid skyn vandag op ons!
Wat meer wil jy hê? Wat meer kan God jou bied?
Sy Seun se bloed het spesiaal vir jou gevloei. Jy is uitgekies en
genooi na die hemelse feesmaal. Jou naam staan in die Boek
van die lewe. Jy ken Jesus. Jy leef dag vir dag tussen baie ander
mense wat eendag saam met jou eregaste by God se hemelse
feesmaal gaan wees. Jou broers en susters in Jesus Christus.
Saam is julle God se familie op aarde.
Dit is met hierdie perspektief wat ons opnuut moet besef ons
Triomfeer, in die Here, oor ons omstandighede.
Ons is nie slagoffers nie!
In God se aardse familie tel nuwe dinge. Hier heers nuwe waardes.
Hier maak mense weer regtig saak. God se kinders trap nie op
mekaar nie. Hulle help en ondersteun mekaar. Hulle dra mekaar
se laste en verbind mekaar se wonde. Hulle treur saam. Hulle vier
ook saam fees. Hulle deel hulle blydskap in die Here. Hulle leef
dag vir dag in eerbied voor hulle hemelse Vader. Hy is die Alfa en
die Omega. Hy is alles in hulle lewe!
God se uitkoms-tyd is realiteit! Ons leef in wonderlike dae saam
met God en saam met mekaar. Ons is burgers van die koninkryk
van God. Tentbewoners in hierdie wêreld met ‘n hemelse vaste
woning wat ewig is! Ons leef in dae waarin Christus se genade die
wêreld oorspoel. Genadetyd voor wederkoms-tyd. Een van die dae
kom Jesus terug! Ons leef in opwindende tyd.
Voel die polsslag van God se teenwoordigheid by ons!
Maak jou oë ‘n slag groot oop en sien God se genade rondom jou.
Word weer aangegryp deur God se dag van redding wat jou lewe
oorspoel het. Leef in sy oorvloed. Lééf terwyl jy leef...!
Ernest.