Genesis 4:26 sê: “In daardie tyd het die mense begin om
die Naam van die Here aan te roep.” Dit is interessant,
dat namate God al hoe minder in die lewe van die mense
ingegryp het, hoe meer het hulle behoefte aan Hom geword.
Hulle het al klaar in hierdie geslagte wat ter sprake is sonde
gedoen en geoffer. Daar het groot skeiding tussen mens en
mens gekom, en tussen mens en God. Maar die mens het dit
aangevoel en die Here begin aanroep.

Dit het al hoe meer gegroei totdat jy treffend in Genesis 5:24
oor Henog lees: “Hy het naby God geleef en toe was hy nie
meer daar nie, want God het hom na God toe weggeneem.”
Die boodskap hierin is dat die kwaad gestuit kan word!
Die gevolge van die sonde kan deurbreek word. Die beeld
van God in die mens kan tot volle verwesenliking kom.
En die rede? Omdat een van die skakels in die menslike ketting
“naby God” geleef het. As Henog te ver in die verlede lê,
bring die Nuwe testament presies dieselfde goeie tyding.
Uiteindelik sou God in Christus die mens herskep wat tot
geloof in Hom kom, om die beeld van God weer uit te leef.
Efesiërs 4:23-24: “Julle gees en gedagtes moet nuut word;
lewe as nuwe mense wat as die beeld van God geskep is:
lewe volkome volgens die wil van God en wees heilig.”

Die 1953 vertaling het gesê:
“En Henog het met God gewandel...”
Waar Henog was in gedagtes, emosies, gees, en fisiese
teenwoordigheid, daar was God. Dit is ‘n grootse mistieke
saamwees van ‘n liefdevolle Skepper en ‘n geliefde mens.
Van Henog word min vertel, behalwe dat hy “met God
gewandel het.” Maar wat ‘n treffende geskiedenis en
nalatenskap is dit nie! God was gedurig in Henog se geselskap.
God wil ook gedurig in ons geselskap wees. Hy luister, Hy hoor,
Hy help, Hy versorg, Hy voorsien.
God wil met jou wandel en nooi jou om met Hom te wandel.

Ernest