Genesis 7:1: “Toe sê die Here vir Noag: “Jy en jou hele gesin
moet in die ark ingaan. Ek het jou gesien en onder hierdie geslag
bevind ek jou regverdig.”
Dit is vreemd dat, ten spyte van mense soos Henog, en ten spyte
daarvan dat die mense die Here se Naam begin aanroep het, daar
steeds groter verwydering tussen God en die mens gekom het.
Ook tussen God en die aarde. Die werk van sy hande. Uiteindelik
het dit onoorbrugbaar geword. Met die skepping het God gesê
dit was goed! Hiervan was nou min oor...
Die verhouding tussen mens en God, en mens en natuur was nou
versteur en totaal van balans af. Die groot verwoesting van die
vloed sou nou as ‘n noodwendigheid kom. Die beeld van God in
die mens het nou grootliks vervaag. Máár, daar was nog mense,
soos Noag, wat die Here wou dien. En vir hulle sien God raak en
Hy bied hulle beskerming. Vir Noag sê Hy:
“Ek het jou gesien en onder hierdie geslag bevind Ek jou regverdig.”
Die Here sien ons steeds vandag. Hy sien hoe ons voor Hom leef.
Dit is wat tel. Nie hoe ons voor die mense lyk nie. Die Here sien
en weet of ons regverdig is in ons verhouding met Hom.
Dit beteken om in die regte verhouding met Hom te leef.
Vir die mense wat voor God vir God leef sê God:
“Gaan in die ark in.” Vir mense soos Noag bied die Here
besondere beskerming.
Dan kan die vloed maar kom. Hierdie hele gebeure vertel dat
God se mense in God se beskerming moet leef. Vandag se wêreld
is nie noodwendig beter of slegter as die tyd van Noag nie.
Wie weet in elk geval? Mense leef steeds al hoe verder weg van
God af. En ander leef doelbewus na God toe. Ons gaan nog steeds
in hierdie wêreld die een vloed na die ander tegemoet. Ons beleef
feitlik elke dag groter of kleiner storms.
Met dit in gedagte sê God ook vir ons, sy kinders: “Gaan in die ark in.”
Wanneer jy voor God buig in totale afhanklikheid gaan jy “in die ark in.”
Wanneer jy die Here vra om beskerming in die praktyk van die lewe,
soos in die verkeer, “gaan jy in die ark in”, al bly jy bestuur met oop oë.
Wanneer jou kind onder jou toesig uit is en jy bid vir jou kind “gaan jy in
die ark in” saam met jou kind. Ons kan daagliks in afhanklikheid van God
leef, en regverdig in Christus voor Hom leef, en so daagliks “in die ark
ingaan.” Leef so voor die Here. God sien jou en bevind jou regverdig,
in Jesus!
Ernest