Vir Noag het die Here gesê “gaan in die ark in.”
Vir Abram sê die Here “trek uit jou land uit.”
In beide gevalle word totale afhanklikheid van God
en vertroue in God gevra. Genesis 12:1:
“Die Here het vir Abraham gesê: “Trek uit jou land uit,
weg van jou mense en jou familie af na die land toe wat
Ek vir jou sal aanwys.”

Ons weet almal hoe groot ontwrigting dit is om te trek.
Ons het dikwels ook kinders in ons familie wat ver weg trek.
Ons weet ook wat dit vra en die onsekerheid wat daarmee
gepaard gaan. Maar in hierdie gevalle weet ons waarheen
ons trek en die voorbereiding is ook al daar gedoen vir ons
vestiging en nuwe werk.

Abram moet trek uit sy land, weg van sy familie, na ‘n land wat
hy nie eers van weet waar en hoe nie! Die Here sê net “na die
land toe wat Ek vir jou sal aanwys.” Abram weet nie eers in
watter windrigting en hoe lank en hoe ver nie! Hy weet niks.
Net dat God hom sal wys.
Abram kon redeneer dat Hy die Here net so goed kon dien daar
waar hy tans is tussen sy mense in die bekende. Daar kan God
hom mos maar seën met ‘n nageslag. Maar dit werk nie so nie.
Wanneer ons God dien gaan dit nie oor ons belange en gerief nie.
Abram moes die kleim gaan afsteek vir die volke en veral die
verbondsvolk wat God as sy nageslag sou beskik het.

Dit vra opoffering van Abram. Hy moet sy tente oppak, en beweeg
in God se rigting. God sal hom wys. Die besonderhede sal algaande
deur God ingelig word. Dink daaroor in jou eie situasie:
Ons probleem is dikwels dat ons eers al die detail van God wil hoor
en die hele prentjie wil sien voordat ons “in geloof beweeg.”
Geloof is egter om seker te wees van die dinge wat ons hoop,
en oortuig te wees van die dinge wat ons nie sien nie! – Heb. 11:1.
God vra ons om in afhanklikheid van Hom, aan Hom gehoorsaam te
wees, al sien ons nie die volle prentjie nie. Ons voel ons word soms
deur omstandighede of oortuiging tot een of ander verandering gedwing.
Dit is asof Iemand vir ons sê: “Gaan uit!” los dit waarop jy nou fokus en
beweeg in die rigting waar God jou wil gebruik.

Dikwels is dit juis ook weg van dinge wat ons benadeel:
Los dit wat jou tyd so mors.
Los daardie onaangename en slegte gewoonte.
Los die gekla wat al deel van jou daaglikse lewe en geword het.
Sien af van ‘n vriendskap wat besig is om jou waardes te ondermyn.
Soek nuwe geleenthede vir God en jou bediening vir Hom. Vergroot
jou grondgebied vir Hom.Verlaat jou “nes”. Pak jou tente op en trek
saam met die Here!
Roep die Here aan en trek weg van jou ongeloof en onsekerheid.
Stap saam met die Here! Leef totaal afhanklik van Hom.
Volg Hom op die pad wat Hy vir jou sal aanwys!

Ernest