“Die roofvoëls het op die karkasse van Abram se offerande
begin toesak, maar Abram het hulle weggejaag.” – Genesis 15:11.
Wanneer twee partye in Abram se tyd ‘n verbond gesluit het, moes
hulle ‘n offerdier in twee sny en dan moes albei partye tussen die
twee helftes deur beweeg en dan die dier offer. Die Hebreeuse
woord vir verbond beteken letterlik om ‘n “verbond te sny.”
So is die ooreenkoms wetlik bevestig.
God sluit hier ‘n verbond met Abram waarin Hy groot beloftes en
ondernemings maak. Abram kry die offerdiere reg, sny hulle middeldeur,
en wag op God om in die middel deur te beweeg. Alles is gereed.
Abram is gereed. Die offer is gereed. Maar God daag nie op nie...
Die roofvoëls begin op die offer toesak. Abram het groot moeite om die
roofvoëls van die offer af weg te hou. Waar is God? Waarom bly God weg?
Dit is vra wat seker by Abram kon opkom. Teen sononder raak Abram aan
die slaap. Angs en ‘n groot donkerte het hom oorweldig – vers 12.
Toe praat die Here met hom en beloof hom ‘n land en ‘n groot nageslag.
Net na sononder het daar skielik ‘n brandende vuur en ‘n fakkel tussen
die offerdiere deur beweeg. God het die verbond gesluit. God kom op sy tyd.
Misterieus. Vreemd. Goddelik. God kom altyd. God is getrou. Al moet ons wag.
Daar is groei in wag op die Here. Groei in afhanklikheid. Groei in vertroue.
Die roofvoëls kom egter ook altyd. Die roofvoëls bring twyfel. Waar is God?
Hoekom bly God weg? Die roofvoëls sak toe op ons gebede, op ons geloof,
op ons vertroue, op ons voorbereiding vir die Here se koms. Die roofvoëls
sak veral toe op ons hele ingesteldheid en verwagting om die Here te ontmoet,
ons tyd saam met die Here.
Twyfel is ‘n groot roofvoël. Is dit hoekom Abram angstig geraak het?
Onsekerheid is ook ‘n groot roofvoël. Om nie die weë van God te verstaan nie,
kan ook ‘n roofvoël raak. Dat God nou aan jou verantwoording moet begin
doen vir wat Hy doen. Bekommernis is ‘n roofvoël. Angstigheid is ‘n roofvoël.
Maak soos Abram. Jaag die roofvoëls weg! God kom op sy tyd. Altyd.
In ‘n vuur, ‘n fakkel wat brand, soos hier. Of in ‘n fluistering in die windstilte
soos met Elia op die berg. Gee jou lewe as lewende en heilige offer wat vir God
aanneemlik is – Rom. 12:1-2.
God is en bly getrou.
Ernest