Abram word die vader van die gelowiges genoem.
Daar word dikwels van Abraham gepraat as ‘n geloofsheld.
Eintlik is daar nie iets soos geloofshelde nie. Dikwels word na
die gelowiges in Hebreërs 11 verwys as geloofshelde. Almal het
egter ook hulle foute en sonde gehad. Geloof is inderdaad ‘n gawe
van die Heilige Gees aan ons. Ons kan nie aanspraak maak daarop
dat ons of iemand anders geloofshelde is nie. Die Bybel self gebruik
nie die begrip van geloofshelde nie.
So moet jy ook jou eie geloof sien as komende van God, as ‘n gawe
deur die Heilige Gees waarin jy groei onder leiding van die Heilige Gees.
Kom ons kyk na Isak, seun van Abraham, nie ‘n sogenaamde
“geloofsheld” nie, as ‘n voorbeeld:
Isak was nie juis ‘n held nie. Eintlik was hy doodgewoon vergeleke
met ander aartsvaders. Hy het ou putte weer oopgegrawe, hy het
goed geboer met gesaaides, sy veetroppe het aangegroei. Hy het ook,
net soos sy pa Abram, uit vrees leuens vertel. Hy het ‘n mooi vrou gehad.
Sy twee seuns het hom waarskynlik nie as ‘n uitblinker-pa gesien nie.
Sy vrou het die seun Jakob grootgemaak, en die veld het eintlik sy ander
seun Esau grootgemaak. Isak was dus ‘n gemiddelde man met gewone
foute. En tog een van die aartsvaders!
Maar doodgewoon soos hy was, en met kinders wat vir hom en Rebekka
“’n bitter verdriet” was, volgens Genesis 26:35, het hy mense met grasie
ontvang en was hy eintlik ‘n man van vrede. Die hoofman Abimelek gee
hom in Genesis 26:28 ‘n besondere getuigskrif:
“Ons het baie duidelik gesien die Here is by jou.” Dit is besonders!
Daar was dus tog iets aan Isak wat mense twee maal na hom laat kyk het.
Hy moes een of ander kwaliteit en teenwoordigheid gehad het.
Ons sien ook: God het hom geseën. Ten spyte van al sy teleurstellings en
foute. Sy vyande het eerder met hom vrede gesoek omdat hulle kon aanvoel
daar is Iemand by hom. “Ons het duidelik gesien die Here is by jou.”
Tog word daar nêrens gesê dat Isak hiervan bewus was nie. Vir hom was dit
natuurlik: God is daar. God word gedien. God word geëer. Sonder groot
omhaal van vrome woorde of grootse geloofsuitsprake soos wat sy pa
Abram gedoen het.
Ons kan weet dat God Hom net soveel bemoei met “gewone mense”,
soos ons, as met mense na wie ons opkyk as sogenaamde “geloofshelde”.
Mense soos ons met hul swakheid en gewoonheid. Ons moet weet in
ons klein dade van geloof doen God oneindig meer as wat ons dink of bid.
God omskep dit heel dikwels in buitengewone grootsheid waarvan ons nie
eers bewus was toe ons daar verbygegaan het in woorde en dade nie.
Ons hoef nie in ons eie oë grootse geloofsdade te verrig nie.
Moeder Teresa het gesê ons doen nie groot dade nie, maar klein dade
met God se liefde, en as ons almal klein dade met God se liefde doen,
doen God groot daardeur. Ons kan maar gewoon wees.
Dit is merkwaardig hoe God gewone mense gebruik en “by hulle is.”
Ook van ons kan ‘n getuigskrif geld soos deur Abimelek vir Isak:
“Ons het baie duidelik gesien die Here is by jou.” Die Here is by jou!
Ernest