Genesis 32:24: “Jakob het alleen daar agtergebly,
en ‘n man het tot dagbreek met hom gestoei.”
Hierdie stoeiery of worsteling van Jakob op die wal
van die Jabbok voordat hy sy broer Esau sou ontmoet,
en God weer by Bet-El sou gaan dien, het deur die eeue denkers,
kunstenaars, digters en sangers aangegryp. Daar is al baie hieroor
geskryf en gesing. Hoe anders? Dit is een van die mees mistieke
gebeurtenisse in die Bybel. ‘n Mensekind met ‘n groot las van sy
gewete en verlede wat met ‘n onbekende wese “stoei”.
Dit eindig vir Jakob in ‘n “oorwinning”, maar ‘n oorwinning met
‘n prys: hy word geseën maar mank geslaan deur sy Teenstander,
‘n engel van God, ‘n verskyning van God self.
Was dit ‘n oorwinning vir Jakob? Of is dit bloot God wat hom toets
en hom “laat wen”? Hoekom so ‘n geweldige liggaamlike stoeiery?
Hoekom dwarsdeur die nag? Hoekom word so min gesê in hierdie
stoeiery? Jakob se Teenstander weier om sy Naam te sê.
Hy bly onbekend en tóg bekend. Hy gee Jakob ‘n nuwe naam, Israel,
en verduidelik dit kortliks: “Jy het teen God en mense ‘n stryd gevoer
en jy het dit enduit volgehou.” – vers 28.
Die Here God, die ware Eienaar van die land, kan nie toelaat dat hy
as Jakob, die bedrieër, die beloofde land binnekom nie. Hy moet eers
verander. Hy moet eers die Here as God ontmoet, as die misterieuse
persoon wat sy heup uit die potjie slaan. Jakob moet ervaar dat hy
sy meerdere teëgekom het, en daarvan sou hy ‘n blywende teken dra.
Hy sou mank loop.
Dat Jakob sy naam self moes sê is die belydenis dat hy ‘n bedrieër is.
Hy erken dit in die sê van sy naam en dan kan hy ‘n nuwe naam kry,
Israel. ‘n Nuwe status en ‘n nuwe lewe. Jakob word die nuwe Israel.
Ons “stoei” ook dikwels met God. Ons wil in die beloofde land ingaan
op ons ou naam en as die mens wie ons is. Ons moet ook dikwels daarin
ons eie naam sê en erken wie ons is, ten diepste.
Ons moet bely wie ons is. Ons loop ook soms mank daarna.
Maar ons word geseën in ons belydenis met God se vergifnis.
Ons dra ook die merktekens van die kruis saam met Christus.
Ons het ook ‘n nuwe naam gekry: Kind van God!
Ernest