Veg met die swaard van die Gees,
dit is die Woord van God – Efesiërs 6:17.

In Matteus 4:1-2 lees ons : “Kort na sy doop het die Heilige Gees
Jesus na die woestyn toe laat gaan. Daar moes Hy deur die duiwel
op die proef gestel word. Veertig dae lank het Jesus niks geëet nie.
Hy het toe honger geword. Dit was natuurlik net die geleentheid
waarop die duiwel gewag het.”

Dit is hoe die duiwel is. Daarop uit om jou te vernietig. Hy skop jou
as jy lê en hy skop om dood te skop. Wanneer Jesus tot die uiterste
honger is, nadat Hy veertig dae nie geëet het nie, slaan die duiwel toe.
Let op dat die duiwel die Woord van God misbruik om Jesus te versoek,
en dat Jesus die Woord van God gebruik om die aanslae van die duiwel
af te weer. Jesus roep nie die engele in om die duiwel weg te jaag nie.
Jesus volg die strategie wat ons ook moet volg: Veg met die swaard
van die Gees, dit is die Woord van God. Die duiwel kan nie weerstand
bied teen die waarheid uit die Woord van God nie. Verkondig daarom
die waarheid en gebruik die Woord van God in die stryd teen die duiwel.

Doen ook wat Jesus doen: Reageer onmiddellik teen die versoeking.
“Moenie die duiwel vatkans gee nie.” – Ef. 4:27.
Die Eskimo’s het ‘n besondere metode om wolwe te vang. Hulle sit
‘n dier se bloed aan die vlymskerp kant van ‘n lem en begrawe dit in
die sneeu dat net die bloederige gedeelte uitsteek. Die wolf kom lek
die bloed af, sny sy tong en proe meer en meer bloed, en bly lek en lek,
...sy eie bloed. Totdat hy vrek van bloedverlies.
Versoekings lyk so aanloklik en klein. Net die een keer lek jy daaraan
en voor jy jou kom kry beteken dit die dood in jou lewe omdat jy
aanhou lek en lek...

Moenie die duiwel vatkans gee nie! Let op: Ons hoef nie bang te wees
vir die duiwel nie. Ons leef in die oorwinning van Jesus Christus!
Ons moenie die duiwel se mag verkeerd verstaan nie. God is almagtig
en in Jesus is ons meer as oorwinnaars!
“Maar in al hierdie dinge is ons meer as oorwinnaars deur Hom wat
vir ons liefhet.” – Rom. 8:37. Veg met die swaard van die Gees.
Die Woord van God! Leef oorwinnend!

Ernest