Jesus preek nie net dat jou lewe moet verander om deel
van die koninkryk van God te word nie. Hy nooi jou ook om
saam met Hom deur die lewe te lééf! Om Hom daagliks te volg!
“Jesus sê vir hulle: “Laat staan julle nette! Kom agter My aan!
Word my volgelinge. Dadelik het Simon en Andreas hulle visnette
neergesit en agter Jesus begin aanstap.” – Lees Matteus 4:18-22.
Dit is merkwaardig dat hierdie twee volgelinge van Jesus dit dadelik
doen! Soos Nike sê: “Just do it!”
Jy leef net een keer. Die vraag is of jy waarlik lééf, terwyl jy asemhaal?
Albert Einstein het gesê die groot tragedie van die lewe is nie dat mense
doodgaan nie, maar dat daar iets in hulle doodgaan terwyl hulle nog lewe.
Sonder Jesus verstaan ons niks van ware lewe of van sterwe nie.
Nog minder van Wie God is, en wie ons is, en wie en wat ons kán word!
Jesus nooi ons om Hom te volg om die ware sin van die lewe te ontdek.
Ons word kinders van God en ontdek:
Ons is nie hier vir onsself nie, maar vir God en ons medemens.
Om Jesus te volg is totaal lewensveranderend! Jy moet God se lig wees
in ‘n deel van die wêreld wat Hy net deur jou wil bereik.
Jou unieke bestaansruimte. Is jy oop en beskikbaar daarvoor?
Kom ons toets die diepgang, of gebrek aan diepte, van ons verhouding
met Jesus aan die gesprekke waaraan ons daagliks deelneem. Gaan dit
oor die geleenthede wat ons sien waar ons ‘n bydrae kan lewer om die
samelewing tot Christus se koninkryk te transformeer? Of bestaan ons
gesprekke uit geleenthede om te kla en te skinder oor dinge in die
samelewing en die kerk wat nie vir óns lekker is nie? Oor wie gaan dit?
Om Jesus te volg beteken om te ontdek dat ons slegs die kragdraad is.
Jesus is die lewende elektriese stroom. Ons enigste krag lê daarin om
dié stroom deur ons te laat vloei. Dan is dit nie meer ek wat “lewe” nie
maar Christus wat in my lééf! In en deur my! So word ek deel van sy
transformasie van hierdie wêreld sodat mense begin leef vir die
koninkryk van God.
Ernest