Matteus 5:4: “Geseënd is die wat treur,
want hulle sal vertroos word.”
Dit gaan daaroor om te treur oor die stukkende werklikheid
van die lewe. Al voel jy vandag onbesorg en vol vreugde, jy
weet dat die wêreld stukkend is. Dit is ‘n werklikheid. Sonde
en gebrokenheid is ‘n werklikheid in die lewe. Dit gaan ook
oor ons gesukkel om te leef soos die Here wil hê ons moet leef.

Schindler’s List is ‘n rolprent wat gaan oor die redding van
lewens tydens die Tweede Wêreldoorlog. Oskar Schindler gebruik
sy rykdom om Jode uit die konsentrasiekampe te red. Hy koop
letterlik hulle lewens by die Nazi’s. Aan die einde van die fliek is
hy bankrot, en sy werkers, almal Jode, wat hom gehelp het, gee
aan hom ‘n ring met ‘n aanhaling uit die Talmoed:
“Whoever saves one life, saves the world entire.” Hy begin huil,
treur, en besef as hy sy motor verkoop het kon hy nog 10 lewens
gered het!

Jesus het alles opgeoffer om die mense van hierdie wêreld te red.
Dit sou abnormaal vir ‘n kind van die Here wees om nie te treur
oor die ellende van die wêreld nie. Hierdie uitspraak van die Here
Jesus gaan nie net bloot oor mense wat treur nie. Alle mense treur
by geleentheid.
Geseënde treurendes is die mense van die eerste saligspreking,
naamlik húlle wat weet hoe afhanklik hulle van God is! Mense
sonder God se troos is troosteloos. Die vraag is óf en hoé God in
ons treur tuiskom! Wie staan in die sentrum van jou droefheid?
Jy of God? Die treurendes van Matteus 5:4 is hulle wat by God huil.
Selfs al huil ons soms óór God omdat ons God nie verstaan nie.

Psalm 77:11 is ‘n voorbeeld daarvan: “My grootste smart is dat die
Allerhoogste nie handel soos voorheen nie.” Hierdie Psalm-skrywer
sê dit vir God! Juis daarom kry hy verrassende antwoorde. Ontdek hy
wat dit beteken om ‘n geseënde treurende van God te wees:
Jy is nie geseënd omdat jou omstandighede eensklaps verander nie.
Jy is nie geseënd omdat jy nou antwoorde op jou vrae kry nie.
Jy is nie geseënd omdat God nou aan jóú verwagtinge voldoen nie.
Jy is wél geseënd omdat jy God nou beter leer ken!... en omdat jy
God se troos leer ken!

Mense se harte sit nie op hulle klere nie. Agter grimering en
glimlagte en vrolikheid lê dikwels die diepste pyn en hartseer.
Toe Jesus hierdie saligspreking op die berg uitspreek het, het Hy
verby mense se klere en glimlagte en sluiers gekyk, na hulle pyn.
Jesus weet waar ons pyn vandaan kom en wat om met ons pyn te
maak. Hy handel daarmee aan die kruis. Hy ly saam met ons én vir ons.

Die diepste betekenis van hierdie saligspreking het te doen met ons
kwesbaarheid, verganklikheid en diepste pyn as gevolg van die sonde
werklikheid. Die grondoorsaak van pyn en hartseer. Hartseer voor God
én saam met God is reinigend, louterend, en word die bron van ‘n fontein
van vreugde in God ten spyte van...
Die “geseënd” in die hartseer lê in die troos wat jy by God kry.
God se troos kan ons net by God kry. Nie by mense nie....

Ernest