Matteus 5:5: “Geseënd is die sagmoediges, want hulle sal die nuwe aarde ontvang.”
‘n Spotprent in ‘n Russiese tydskrif het die spot gedryf met die sagmoedigheid waarvan Matteus 5:5 praat.
Dit was die prent van ‘n man wat bo-oor ‘n graf aan ‘n galgtou hang met die onderskrif:
“Salig is die sagmoediges, want hulle sal die aarde beërwe – ses voet diep.”
Die wêreld dink meestal dat sagmoedigheid ‘n vorm van swakheid is.
Dit is alles behalwe.
Inteendeel!
Thomas Merton sê:
“Sagmoedigheid is nie swakheid nie, maar krag wat ter wille van diens onder leisels gehou word.”
Henry David Thoreau stel dit só:
“Geen wonder nie dat Jesus die sagmoediges geseënd noem –
hulle besit immers ‘n vermoë wat baie heersers hulle behoort te beny: krag!
...wat onder beheer is.”
Daarom is ‘n goeie toets vir jouself ‘n paar vrae soos:
Hou ek daarvan om die middelpunt van aandag te wees?
Verwag ek van ander om my te dien? Maak ek mense se laste swaarder,
of maak ek dit ligter deur te help dra?
Staan die “sag-” van mý sogenaamde sagmoedigheid vir Sterk selfbeeld, Aangenaam, Gees-beheersd...?
Weereens: hierdie uitspraak van Jesus in terme van sagmoedigheid staan in die lig van die eerste saligspreking:
“Geseënd is dié wat weet hoe afhanklik hulle van God is...”
mense wat weet dat hulle alreeds by God die koninkryk van die hemel geërf het,
kán sagmoedig wees.
Hulle ís ook sagmoedig.
Mense wat weet dat hulle sonder enige terughoudendheid op God kan vertrou.
Hulle loop loshande in hierdie wêreld, en klou veral nie aan hulleself vas nie.
Sagmoedige mense is nie hardvogtig nie en het ‘n hart vir ander mense.
Sagmoedigheid is nie toegegroei van selfsug, eersug en selfbelang nie.
Sagmoedige mense begin die ware betekenis van genade al hoe meer en meer verstaan.
Om soos Franciscus van Assisi vrywillig arm te word aan jouself en jou goed om opreg God se rykdom te kan ervaar.
Jesus het gesê: “Leer van My want Ek is sagmoedig en nederig van hart.”
Sagmoediges “sal die nuwe aarde ontvang”, sê Jesus.
Mede-erfgename van Jesus.
Sagmoedige mense het die koninkryk van God in gedagte in hulle manier van lewe.
Hulle laat hulle nie onderkry deur die hardvogtiges van hierdie wêreld nie.
Ernest