“Geseënd is dié wat honger en dors na wat reg is,
want hulle sal versadig word.” – Matteus 5:6.
Ons hoor dikwels die uitdrukking: “Die lewe is nie regverdig nie.”
Vraag is: Tree jy self altyd reg op teenoor ander mense?
Wat verstaan ons onder “reg en geregtigheid”? Het dit dieselfde
betekenis as wat die begrip by die wêreldhof in Den Haag het?
Die hele wêreld praat daagliks oor reg en geregtigheid.
Vanuit Bybelse perspektief kan ons sê: God is regverdig.
Hy laat reg geskied. In sy koninkryk heers geregtigheid. God se
geregtigheid word aan die Persoon van Jesus Christus gekoppel.
Jesaja 9:6 het alreeds voorspel: “Hy sal dié koninkryk vestig en in
stand hou deur sy reg en geregtigheid.” Wanneer Jesus oor God
se koninkryk praat, dink Hy nie net aan die mense wat op daardie
oomblik rondom Hom op die berghange van Judea sit nie.
Die koninkryk van God het altyd ook met die toekoms te doen.
Om jou aan God se heerskappy te onderwerp. In die koninkryk
van God gaan dit nie oor die bietjie wat ek kan bydra nie, maar oor
dit wat ek is. Is ek volkome aan die Here toegewy, of nog steeds
heerser van my eie lewe? Om die geregtigheid van God uit te leef
moet ek eers alles verloor, om met die geregtigheid van God bekleë
te kan word. Ons kan nie selfgenoegsaam en selftevrede wees in
eie geregtigheid nie.
Ons moet honger en dors na wat in God se oë reg is.
Dit is die “reg” wat die eer van God in die oog het.
Die wet sal byvoorbeeld sê: Jy mag nie moord pleeg nie. Om te honger
en te dors na wat reg is in God se oë, om God se reg te soek, is om verder
te gaan en daarna te strewe om die lewens moontlikhede vir mense so ver
as moontlik te verbeter. Dit is veel meer as om maar net binne die perke van
die wet te lewe. Dit is immers al wat die Fariseërs gedoen het. Om net die
letter van die wet te hou.
Om te “honger” en te “dors” na wat reg is, is om dit met jou volle menswees
vir die Here te wil uitlééf! Dit kom diep uit die hart en is nie net die nakoming
van iets wat reg is nie. Jy “honger en dors” nie net na dit om aan die lewe te
bly nie, maar om jou hele siels-bestaan daarmee te voed tot verheerliking
van God! Jy is met niks minder as alles wat God wil hê tevrede nie.
Jy gee alles daarvoor! Dit dui ook op vervulling. Op alles wat God wil gee!
G.D. Cloete het gesê: “Daar is wêrelddele waar die oorvloed lê en verrot, en
daar is ander waar geen vullisdrom of vullishoop onaangeroer gelaat word nie.
Want die onreg geskied meestal nie in die bose wat ons doen nie, maar in die
goeie wat ons nié doen nie!”
Die ryk jongman, en Nikodemus, en die Fariseërs hét die Wet gehad, en hulle
het die wet tot op die letter onderhou, maar hulle het onversadig gebly. Rede?
Hulle het nie na God se geregtigheid gehonger en gedors nie. Hulle geregtigheid
was eiegeregtigheid. Hulle wou hulleself “in orde” reken. Hulself “reg” verklaar.
Om te honger en te dors na wat reg is, is om na die belange van God se koninkryk
te soek en God se hartklop daarvoor te ontdek en te ken en uit te leef!
Dan het jy deernis met verontregtes, en jy deel met hulle, en jy gee jou
eiegeregtigheid prys, en jy ontledig jouself...en jy word versadig...
deur God self!
Ernest