Matteus 5:7: “Geseënd is dié wat barmhartig is,
want aan hulle sal barmhartigheid bewys word.”
Die meeste van ons dink die evangelie gaan oor mý.
Mý verhouding met die Here. Die evangelie is die goeie
nuus van God se liefde vir mense – van wie ek die vernaamste is...
Dikwels word die evangelie vir mense ‘n middel waarmee ons
onversadigbare selfliefde gevoed kan word. En ons kom dit nie
eers agter nie. Die evangelie waarborg dat God vir my is.
Dit is die belangrikste. Dit is genoeg. Is dit?

Barmhartigheid het egter te doen met ons liefde vir ánder mense.
En juis daardie soort liefde maak van ons die gelukkige mense.
Dit is die liefde wat God van ons as sy kinders vra. Barmhartigheid
is om uit die kokon van jou selfliefde te breek. Beur daaruit!
God se koninkryk maak sy hart oop vir mense! Lukas 6:37:
“Wees barmhartig soos julle Vader barmhartig is.” Barmhartigheid is
iets anders as ‘n oop beursie en ‘n toe hart.

Let op: God is nie net saaklik barmhartig deur die gee van reën en
sonskyn, kos en klere nie. God het Homself weggegee in sy Seun
Jesus Christus! Barmhartigheid is om jouself, jou hart in medelye te gee.
Om in daardie persoon se skoene te gaan staan. Dit is omgee sonder
Voorwaardes, wat jou ook selde laat kies waar jy wil gaan. Jy gaan waar
God jou stuur. Dikwels waar jyself nie sou wou wees nie.

In New York is ‘n kerk met hierdie woorde op ‘n groot houtbord:
“You don’t have to think alike to love alike.” Dit is wat Matteus 5:7 van
ons vra. Gee sonder voorwaardes, ook aan hulle wat nie soos jy dink nie
en jou soms teen die mure uit wil dryf.

A.A. van Ruler beskryf barmhartigheid met drie woorde:
Mildelik – dit impliseer ‘n vrygewigheid wat diep uit jou hart kom.
Ontferming – jy raak dáádwerklik betrokke by mense in nood.
Vergifnis – barmhartigheid is die deurstroom van liefde na jou medemens,
ten spyte van sy of haar oortredinge.

Jesus maak dit nogal moeilik. Hy plaas ons vyande ook in ons teiken-veld,
en nie as teikens nie! Dit is Jesus se eie voorbeeld. Dit gaan nie oor die doen
van regte dinge alleen nie, maar veral om dinge met die regte hart te doen!
Jesus vra eers die hart, dan die gawe.
Ook by hierdie saligspreking is ‘n belofte ter sprake: “...want aan hulle sal
barmhartigheid bewys word.” Die belofte is egter nie oorsaaklik nie.
God is aan my barmhartig sonder dat ek enige iets daarvan verdien.
Dit is jou antwoord op God se eerste liefde en genade aan jou.
“Maak ‘n vuur om jou koue broer warm te maak, en jy word self ook warm.”
Te veel mense het egter barmhartigheid ingeruil vir “liefdadigheid”.
“As jy wil hê ander mense moet gelukkig wees, wees barmhartig. As jy self
gelukkig wil wees, wees barmhartig.” – Roy B Zug.
Om jammer te voel is menslik, maar om barmhartig te wees is goddelik.
Geseënd is dié wat barmhartig is...

Ernest