“Geseënd is dié wat rein van hart is,
want hulle sal God sien.” – Matteus 5:8.
As kinders van God weet ons dat ons harte gereinig is
deur die bloed van Jesus. Let egter op: Hier staan nie
“geseënd is hulle wat deur die bloed van Jesus gereinig is nie.”
Hier staan ondubbelsinnig “geseënd is dié wat rein van hart is.”
Daarmee bedoel Jesus mense wat dag vir dag rein van hart léwe.

Dit gaan nie in die saligsprekinge in die eerste plek oor lewens-status nie,
maar oor lewenswyse. Jesus praat tog met sy dissipels wat reeds in ‘n
besondere verhouding met Hom staan. Vir hulle en ons sê Jesus:
Lééf rein van hart! Met reinheid bedoel Jesus ook nie die seremoniële
reinheid wat die Jode so goed geken het nie, maar rein harte! Jou hart
bepaal jou lewenskoers. “Uit die hart kom slegte gedagtes...dít is die dinge
wat ‘n mens onrein maak.” – Matteus 15:19-20.

Psalm 51:11-12 is ‘n gebed hiervoor: “Moet tog nie ag slaan op my sonde nie,
wis al my skuld uit! Skep vir my ‘n rein hart, o God...” Ons weet ons is nie uit
onsself rein nie. Ons weet, al is ons gereinig deur die bloed van Jesus,
ons lewens is steeds nie foutvry en onberispelik nie.

Met hierdie saligspreking spoor Jesus ons aan om rein te leef. Hy vra van ons
persoonlike offers in belang van God se koninkryk. Jesus vra ‘n positiewe en
aktiewe toewyding aan die Here. ‘n Geheiligde léwe. Geloof in aksie.
My innerlike en uiterlike lewe staan nie los van mekaar nie. Ek staan geheel
en al onder beheer van die Heilige Gees. Ek leef met ‘n onverdeelde hart.
Die Heilige Gees lei my daagliks op die pad van heiligmaking.

‘n Rein hart is nooit ‘n afgehandelde saak nie. Om onder beheer van die
Heilige Gees te leef is nooit ‘n afgehandelde saak nie. Dit is voortdurende
toewyding aan die Here. Gereelde selfondersoek.

Jesus voeg ‘n verrassende belofte by hierdie saligspreking.
“Geseënd is dié wat rein van hart is, want hulle sal God sien.” Dit dui op ‘n
voller en ryker gemeenskap met God. Dit is ‘n ervaring wat ‘n kind van die
Here hier en nou ondervind, van God se mag en heerlikheid.
Maar dit is óók ‘n uitspraak met die oog op die eindtyd. Die vervulling van
Jesus se saligsprekinge sal ook plaasvind met Jesus se wederkoms. Ook in
daardie opsig sal ons “God sien”.

Wanneer ons dit by tye regtig moeilik vind met ons onrein harte,
terwyl ons so graag in voller gemeenskap met God wil leef, dan word ons
deur hierdie belofte van Jesus aangespoor om onsself opnuut aan die Here
toe te wy. Dit is nooit ‘n afgehandelde saak om jou aan die Here toe te wy nie.
In hierdie opsig help 1 Johannes 3:2-3 ons baie: “Dit is nog nie geopenbaar wat
ons sal wees nie, maar ons weet dat, wanneer Jesus kom, ons soos Hy sal wees.
Ons sal Hom sien soos Hy werklik is. Elkeen wat hierdie verwagting in verband
met Hom koester, hou homself rein soos Jesus rein is.”

Dus, hoé leef ons rein van hart? Kyk na Jesus! Volg Jesus se voorbeeld as
toegewyde volgeling van Jesus. En jy sal Hom al hoe meer sien soos Hy werklik is.
Ook by sy wederkoms. En jy sal God sien. Bly bid vir ‘n rein hart.
Bly lewe in oorgawe en toewyding aan die Here. Bly bid daarvoor om Heilige Gees
vervuld te lewe...sodat jy God kan sien!

Ernest