Matteus 5:9: “Geseënd is die vredemakers,
want hulle sal kinders van God genoem word.”
Die Boodskap vertaal dit so: “Gelukkig is almal wat vrede
maak tussen mense wat in vyandskap met mekaar lewe.
God sal op die laaste dag voor almal sê dat hulle sy kinders is.”

Is jy ‘n vredemaker? Dit is nie genoeg om net oor vrede te praat nie.
Jy moet daarin glo en dit uitleef. Jy moet daaraan werk om dit uit te leef!
“As ons geen vrede het nie, is dit omdat ons vergeet het ons behoort aan
mekaar. Vrede en oorlog begin in die huis. As ons waarlik vrede wil hê,
laat ons begin deur mekaar in ons eie families lief te hê.” – Moeder Teresa.

Die vraag is nie of jy vredeliewend is nie. Die meeste mense is. Maar ware
vredemakers is dun gesaai. Kyk maar na die wêreld om jou en luister na die
mense om jou. Is jy werklik ‘n vredemaker? As daar meer vredemakers was,
sou daar meer vrede wees. Vredemakers gaan uit hulle pad om versoening
tussen mense onderling, en mense en God te bring. Vredemakers het dit nie
maklik nie. Hulle moet dikwels straf verduur.

Hierdie uitspraak van Jesus, dat vredemakers geseënd is, gaan nie daaroor
om ons vir ‘n mooi gesindheid te komplimenteer nie. Paulus slaan vrede so
hoog aan dat hy dit as van deurslaggewende belang in die lewe van ‘n
gemeente en ‘n gelowige se lewe beskou: “En die vrede wat Christus gee,
moet in julle lewe die deurslag gee. God het julle immers geroep om as lede
van een liggaam in vrede met mekaar te lewe.” – Kol. 3:15.

Wat word met die woord “vrede” bedoel? Mense dink meestal dit is die
beëindiging van konflik. Om vrede te sluit. Om aan eise en voorwaardes te
voldoen. ‘n Wapenstilstand...
Die vrede wat vir ons die toegang tot die Vader se hart gee is anders!
Christus se vrede is heel anders. Die vrede wat Christus gee is vrede met God,
in die eerste plek. Hy het ons met God versoen sodat ons vrede met God kan hê.
Versoening vind eerste met God plaas.

Bybelse vrede gaan nie daaroor om uit mekaar se pad te bly terwille van vrede nie.
Bybelse vrede bring juis mense oor mekaar se pad! Dit laat mense met mekaar
versoen raak. Die vrede wat Christus gee is nie net vrede met God nie, maar ook
vrede met mekaar. Bybelse vrede is nie ‘n rug-aan-rug lewe nie, maar ‘n omhelsing
ter wille van die Here. Christus versoen ons met God en stuur ons dan na mekaar toe.
Om dieselfde te doen.

“Vredemaker” beteken daarom baie meer as vredeliewend. ‘n Vredemaker leef nie
in ‘n soetsappige droomwêreld nie. Daarom moet ons weet, dat om vrede met God
te maak, beteken dat jy in vrede met ander mense moet leef. Jy sal nooit volkome
vrede met God kan ervaar as jy nie met ander gelowiges vrede het en vrede maak nie.
Leef as aktiewe vredemaker!

Ernest