Vrede kring uit wanneer ek ‘n vredemaker is.
Omdat vrede met herstelde verhoudinge te doen het,
kring dit al hoe wyer uit. ‘n Kind van God word die werktuig
van vrede in die mate wat ons die verkondigers word van die
versoening wat Jesus bewerk het, en die vrede wat Hy gebring het.
“Ons smeek julle namens Christus: Aanvaar die versoening met God
wat Hy bewerk het.” – 2 Kor. 5:20. ‘n Vredemaker dring by mense
daarop aan om met God te versoen in Christus.
Vrede het egter ook ‘n prys. Vir Jesus het dit uiteindelik sy lewe gekos
om vrede te maak, om mense met God te versoen sodat hulle vrede
kan hê – Ef. 2:14, 16. Vir Jesus se dissipels het vrede ook ‘n prys gehad.
En vir volgelinge van Jesus sal dit steeds ‘n prys hê. Vrede vra offers.
Kan jy aan ‘n groter offer in selfverloëning dink as om jou offergawe te
laat staan en eers na jou broer te gaan oor wie jy vermoed dat hy iets
teen jou het? – Matteus 5:23. Die prys van vredemaker te wees begin
by selfverloëning. Dit help nie om jou vir vrede te beywer terwyl jou
hele lewe op selfbehoud ingestem is nie.
‘n Vredemaker leef selfverloënend.
Die woord vir vrede in die Ou Testament dui op ‘n toestand van
volkome harmonie – “Shalom”. Om heel te wees. Om volledig te wees.
‘n Vredemaker soek na harmonie en leef in harmonie op alle terreine
van die skepping. ‘n Vredemaker verteenwoordig God in die skepping.
‘n Kind van God is in die opsig vreemd aan die wêreld. Jy draai die ander
wang, loop die tweede myl saam. Gee die onderkleed saam met die
bo-kleed weg.
Elkeen van ons kan onsself weereens dringend afvra:
Ken en ervaar ek persoonlik die vrede wat alle verstand te bowe gaan?
Is ek werklik ‘n vredemaker? “Geseënd is die vredemakers,
want hulle sal kinders van God genoem word.” – Matteus 5:9.
Ernest