“God het ons vir Homself gemaak,
en ons hart bly onrustig totdat dit rus vind in Hom.”
Hiermee het Augustinus, die beroemde kerkvader,
die diepste hartsbehoefte van alle mense beskryf:
Om in God rus te vind. Of mense dit wil weet of nie,
in ons onderbewussyn is daar die wete:
Sonder God kan ek nie. Al het die sonde dit byna
heeltemal uitgewis, is daar in elke mens ‘n vae
aanvoeling vir God. ‘n Onvervulde verlange en soeke.

Dit is egter ironies dat mense probeer om die verlange
te stil met alles moontlik, behalwe God. Ons probeer
dit vul met goeie dinge soos jou huweliksmaat, kinders,
familie, vriende, beroep, ideale, besittings...
Ons probeer dit ook stil met minder goeie dinge en selfs
slegte dinge soos hebsug, mag, sensasie, plesier, wellus...

Wie God nie in hulle lewe het nie, probeer die vakuum waar
God moes wees, volprop met allerhande moderne afgode.
Dit kan egter geen mens volkome bevredig of gelukkig maak,
of ware sin in die lewe gee nie. Vir ware vervulling moet ons
soos die Psalmskrywer in Psalm 73:25 kan sê:
“Daar is niks in die hemel of op die aarde wat vir my meer
beteken as U nie.”

God wil natuurlik in elkeen se lewe hierdie vakuum vul.
Hy wil ons diepste verlange stil. Voor ons nog na God begin soek,
toe ons nog totaal verlore was, het Hy gekom om ons te soek en
te vind. God verlang ook na jou wat die kroon van sy skepping is.
God verlang na jou. God wil die kern van jou lewe wees.
Gee jouself aan Hom. Leef die ware lewe, en dít,
die ware lewe, in oorvloed!

Ernest