Alles in die skepping bestaan om God te prys,
Hom te verheerlik bloot deur die bestaan daarvan,
om tot eer van God te “wees”. In klein klofies waar
mense nie kom nie, hoog in die hoogste berge, blom
die mooiste blomme, bloot deur hulle bestaan tot eer
van God. Diep onder in die oseane, waar mense se oë
nie sien nie, is die mooiste veelkleurige visse, wat bestaan
tot God se eer. Die pers getinte bergpieke verkondig sy lof.
Branders breek oor rotse en weerligstrale beklemtoon iets
van God se grootheid.
Dit is soos ‘n kragtige orrel waarvan elke orrelpyp sy eie
suiwer klank laat klink. Van die dreungeluid van die basklanke
tot die fyn klankies van pypies so groot soos stopnaalde.
Almal speel saam en vorm ‘n simfonie van klank.
So is God se skepping, waarvan Hy self by die skepping sê:
Dit is goed.
Elkeen van ons het ook ‘n plek in die simfonie van God se skepping.
Ons het selfs die voorreg om God bewustelik te prys en groot te
maak! Ons kan bewustelik antwoord op God se liefde en sy grootheid.
Ons kan dit oral doen...wanneer ons wasgoed ophang, motor bestuur,
skottelgoed was, op die draaibank werk, die gras sny, die vuilgoedsakke
uitsit, in die kerk bymekaarkom, sing en bid, ander help...
Elke doodgewone aktiwiteit, elke uur van die dag, bied geleentheid
om God daarin te ontmoet en Hom te eer en te loof daarmee.
Leer om God raak te leef in die alledaagse. Om Hom daarin en daardeur
beter te leer ken. Leer om saam met Psalm 103:2 te sê:
“Ek wil die Here loof en nie een van sy weldade vergeet nie.”
Want, soos die skepping, is ook ons daar ter wille van God,
en nie ter wille van onsself nie.
Ernest