God is so totaal anders as ons.
Die hemel is sy “woonplek”. En tog kan hierdie woonplek
Hom nie bevat nie, want God is orals! Hy is die Skepper
van hemel en aarde. Van alles uit niks. Hy is buite tyd en
ruimte. Hy is by sy skepping, en in sy skepping, en tog ook
anderkant die grense van sy skepping. Anderkant die anderkant
van die heelal! Hy is groter as ons denke, hoog bo ons gedagtes.
Niks kan met God vergelyk word om sy grootheid te probeer
verstaan nie. God is onvergelyklik! Punt. Hy is eenvoudig net...
onbegryplik groot!

En tog is hierdie onpeilbare God vir ons! En as God vir ons is,
wie kan dan teen ons wees? Romeine 8:31: “God is vír ons,
wie kan dan teen ons wees?” God gee om vir alle mense.
Geen mens is vir God onbelangrik nie. Die grond voor die kruis
is gelyk. Daar is nie trappies nie. Almal staan voor God op gelyke
grond. God sien nie met meer sorg om na sekeres as na ander nie.
God dink ewe veel aan ons almal en is ewe veel teenwoordig by
elkeen.

Psalm 8:5 roep daarom in verwondering hieroor uit:
“...wat is die mens dan dat U aan hom dink, die mensekind dat U
na hom omsien?”
Ons is deel van God se deurlopende gedagtegang.
Hy het ons uitgedink en ons geskep uit niks...uit stof.
Ons is God se breinkinders! En tog, God is nie só anders, of só groot,
of só besig dat Hy nie aan ons dink en vir ons omgee op elke oomblik
van elke dag of nag nie!
Die grote en gans andere God dink deurlopend aan jou!

Ernest