Martin Luther, die groot Hervormer, het van tyd tot tyd
in sy lewe swaar aan neerslagtigheid gely. Hy het hom
dikwels verknies oor meer of minder belangrike dinge...
Sy vrou, Kate von Bora, het dit dikwels beleef en toe op
een dag te veel daarvan gehad. Sy het haar rouklere gaan
aantrek. Toe Luther haar sien het hy vermoed sy het ‘n
doodstyding van iemand gekry terwyl hy nie by die huis
was nie. Ontsteld het hy vir Kate gevra: “Waarom is jy so
aangetrek? Wie is dit wat dood is?”
Haar ironiese antwoord was: “Hoe sal jy dan nie weet nie?
Jou God is mos dood!” Na ‘n oomblik het hy begryp wat sy
bedoel het: Hy tree op asof God dood is!
Dit sê geweldig baie van ons optrede. Ons praat ook
dikwels asof God dood is. Ons leef met vrese asof God dood is.
Ons tree op asof God dood is. God is nie dood nie! En ons weet dit!
Hoekom leef ons dan dikwels asof Hy dood is? Hy is die lewende God
van alles! Handelinge 14:15 roep mense op om die sinlose gode te
laat staan en hulle tot die lewende God te moet bekeer.
Hy wat alles geskep het! Hy wat in beheer is van die totale skepping!
Hy het nou van óns sy woonplek gemaak! Ons is nou die tempel van
die lewende God! – 2 Kor. 6:16. Die lewende God se nabyheid is in ons!
So naby is Hy aan ons! Waarom sal ons dan aanhou om ons te verknies
oor die sorge van die lewe en die sogenaamde aansprake van die dood?
Die Een wat in ons leef is sterker as die dood en groter as enige sorge
wat ons kan hê.
Luther het na die vermaning van sy vrou geluister!
Hy het telkens weer uit sy neerslagtigheid opgestaan en een van die
groot hervormers van die kerk geword! Ons kan ook.
Ons kan ons rouklere verbrand! Want God leef!
Ernest