Die Vader weet nie net van jou nie...
Hy weet alles van jou! Psalm 139:1 sê: “Here,
U sien dwarsdeur my, U ken my.” Die Vader ken
jou persoonlik. Jy is sy kind! Vers 13 van die Psalm sê:
“U het my gevorm, my aanmekaar geweef in die skoot
van my moeder.” Vers 17 sê: “ Hoe wonderlik is U
gedagtes vir my, o God, hoe magtig hulle almal.”
Jou Vader weet alles van jou! Hy beplan die
wonderlikste vir jou met sy wonderlike gedagtes
vir jou. Daarom dat Jesus in Matteus 6:8 gesê het:
“Julle Vader weet wat julle nodig het, nog voordat
julle dit van Hom vra.”
In die ou dae het ‘n skip een stormagtige nag langs ‘n
onherbergsame kusstrook op die rotse geloop en gestrand.
Al die passasiers en bemanning het verdrink. Al die slagoffers
se families is in kennis gestel. Die lyke wat uitgespoel het is
een vir een deur die families opgeëis om in hulle tuisdorpe
begrawe te word. Almal...behalwe die van ‘n baba dogtertjie.
Niemand het haar liggaampie kom haal nie. Niemand het
geweet wie haar ouers was nie, hoe oud sy was, of wat haar
adres was nie. Die passasierslys het nie eers haar naam bevat
nie! Na ‘n paar dae is die dogtertjie op ‘n plek naby die ramp
toneel begrawe. Op haar grafsteen was net drie woorde:
“Die Vader weet...”
Ja. Die Vader kén haar. Hy weet by wie sy hoort. Hy weet
alles van haar.
Hy weet ook alles van jou. Hy ken jou deur en deur en het jou
intens lief. Jy is sy kind. Hy weet wie ons is, wie ons familie is,
waar ons vandaan kom, wat diep in ons hart onrus of rus is...
vrede of ontsteltenis, vrees of kalmte... onsekerheid of sekerheid.
Hy weet alles van ons. Hy weet elke behoefte, intense begeerte,
ken elke nood, en diepste lyding...alles. Hy verstaan...
Weet dus hierdie drie woorde oor jou: “Die Vader weet...”
Ernest