Die Duitse teoloog, Walter Lüthi, vertel dat hulle
as kinders saam met baie ander kinders in die buurt
in die middae in die straat gespeel het. Elke middag
teen sonsondergang het die kinders onrustig begin raak.
Hulle het kort-kort straatop geloer. Een van die seuns het
gewoonlik by die bo-punt van die straat gaan staan, en as
hy húlle pa sien aankom het, het hy hard gewaarsku:
“Vader kom!” Dan het die kindertjies soos hoenders voor
die aanval van ‘n roofvoël uitmekaargespat en na hulle huise
gehardloop. Nie een van hulle wou deur dié vader gesien word,
aangespreek word, of veral aangeraak word nie. Net sy eie
kinders moes dit ontgeld. Waarom? Hy was ‘n slegte vader.
‘n Ongevoelige man met ‘n harde hart.

Hoe anders is ons hemelse Vader!
Vir Hom hoef ons nie weg te hardloop nie. Om deur Hom
raakgesien, aangespreek, en aangeraak te word is die
wonderlikste wat met ‘n mens kan gebeur! Dit bevestig
telkens weer dat jy sy kind is, dat Hy jou liefhet, dat jy vir
Hom van onskatbare waarde is. Ons kan net in dankgebed
uitroep: “Abba Vader, dankie dat ek nie hoef weg te hardloop
as U na my toe kom nie. Dit is eerder U wat na my toe
aangehardloop kom wanneer ek, soos die verlore seun,
uit die varkhok na U toe kom...”

Daarom roep die apostel Johannes met verwondering uit:
“Kyk watter groot liefde die Vader aan ons bewys het:
Hy noem ons kinders van God, en ons ís dit ook...” – 1 Joh. 3:1.
Nee, óns Vader is nie ongevoelig nie en het nie ‘n harde hart nie.
Inteendeel! Sy hart is sag. Soos die van ‘n liefdevolle Abba Vader.

Ernest