Daar is natuurlik baie mense wêreldwyd wat meen dat
die Christelike godsdiens wensdenkery is. Hulle beweer
die geloof in die hemelse Vader, wat vir ons sorg in alle
omstandighede en na ons gebede luister, is maar net ‘n
projeksie van die menslike gees, ‘n uitvloeisel van die
menslike gemoed.
Omdat mense ‘n inherente behoefte het aan ‘n Vaderfiguur,
so redeneer hulle, “skep” mense vir hulle iemand met wie
hulle enige tyd op enige plek kan praat. Dit is dan ‘n figuur
wat baie sterker as hulleself is, en alle probleme kan oplos
waarmee mense nie raad het nie.
Die beeld word gebruik van ‘n seuntjie wat met die trap in ‘n
donker kelder moet afklim en dan, uit vrees vir die onbekende
donkerte, met “iemand” begin praat wat moet help en beskerm.
Maar eintlik praat hy met homself.
Die Vader is egter nié ‘n projeksie of self geskepte mense-beeld nie!
Die hemelse Vader het Hom van bo en van buite ons gees aan ons
geopenbaar deur sy Woord en Gees. Hy doen dit ook steeds deur sy
Woord en Gees! Die hemelse Vader is ‘n “objektiewe werklikheid”.
Die probleem is dat mense dink “sien is glo”. Wat hulle nié kan sien
met hulle oë nie, wil hulle nie glo nie. Dietrich Bonhoeffer het gesê:
“’n God wie se bestaan ons wetenskaplik sou kon bewys, sou ‘n
afgod wees.” Dit sou beteken God is onderhewig aan die wetenskap.
Feit is: ‘n Dooie God is die skepping van mense. Die lewende God is
die Skepper van mense! God is die groot “Ek is”. Laat die wêreld
maar sê: “Hy was”. Hulle sal nog God se grammatika leer.
Oor God as Vader skryf Ruth A Smith: “Mense van agnostiese
oortuiging skryf soms vir my en vra hoe ek so seker kan wees van
God se bestaan en sy liefde vir my. Al wat ek elke keer kan sê is dat
ek minder rede het om in húlle, van wie ek net die adresse het, se
bestaan te glo, as in dié van ‘n Persoon met Wie ek die afgelope
veertig jaar reeds daaglikse gesprekke voer en Wie vir my ‘n
werklikheid is.”
Hiermee word die behoefte beklemtoon, wat ons inderdaad het,
aan ons hemelse Vader! Dit is baie waar. Hy ís sterker en groter as
ons! Hy kán probleme oplos wat ons radeloos en moedeloos laat.
Maar dit is nie hierin wat die bewys van sy bestaan lê nie.
Goddank! God die Vader is vir sy kinders ‘n werklikheid!
Daarom sê sy Woord: “Werp al julle bekommernisse op Hom,
want Hy sorg vir julle.” – 1 Petrus 5:7. Verder sê die Woord:
“Wie tot God nader moet glo dat Hy bestaan en dat Hy dié wat
Hom soek beloon.” – Hebreërs 11:6.
Ons kán en moet met die Vader praat. Hy luister in lig en in donker.
Sy hart klop vir ons. Sy ore luister na ons.
Hy is ons Abba Vader!
Ernest