Iemand het gebid: “Vader, hier is ek. Vorm my.
Breek my, as dit moet. Solank dit net U is wat die
hamer en die beitel hanteer.”
Dirk Opperman se bekende digbundel, “Engel uit die klip”,
kry sy titel van die antwoord wat ‘n beroemde beeldhouer
eendag gegee het toe hy gevra is hoe hy dit regkry om
sulke pragtige beelde uit marmerblokke te skep.
Hy het gesê: “Ek benader elke blok met die vaste geloof dat
daar ‘n engel binne-in is wat deur my bevry moet word.”
Presies so hanteer die Vader ons. Natuurlik is ons nie in sy oë
marmerblokke nie, maar mense. Sy kinders! Soms moet die
Vader die hamer en die beitel inlê om ons te vorm. Hy moet
ontslae raak van ons rowwe kante van menswees wat nie
die beeld van Jesus vertoon nie. Daarom vra Hebreërs 12:7:
“Is daar miskien ‘n kind wat nie deur sy Vader getug word nie?”
Hebreërs 12:7-9 raai ons aan om ons nie teen die tug te verset nie:
“Verdra die tug as opvoeding, want God behandel julle as sy kinders.
Is daar miskien ‘n kind wat nie deur sy vader getug word nie? As julle
nie getug word soos al die ander nie, dan is julle nie werklik sy kinders
nie. Verder, ons het ons aardse vaders gehad wat ons getug het, en
ons het vir hulle eerbied gehad. Sal ons ons nie nog des te meer aan
die hemelse Vader onderwerp en lewe nie?”
Die Vader het ‘n plan met jou lewe. Hy wil uit ons elkeen die beeld
van Jesus laat vorm aanneem! Laat ons Hom as Vader onvoorwaardelik
daarmee vertrou. Selfs al voel ons die houe van die hamer en die beitel
wat ons vorm...
Ons weet dat dit ten goede sal meewerk vir elkeen wat Hom liefhet.
Ernest