Hoekom raak ons dikwels so bang? Hoekom is ons
geheue dikwels so kort in terme van wat ons regtig glo?
Die staatsekretaris van Oliver Cromwell was eenkeer op
‘n belangrike seereis en kon een nag nie slaap nie. Hy het
om een of ander rede ‘n voorgevoel gehad dat iets verskriklik
op die seereis sou gebeur. Hy het toe een van die ander
amptenare wakker gemaak om sy vrees met hom te deel.
Die amptenaar het hom gevra of hy drie vrae met hom kon
deel waarop die sekretaris geantwoord het dat dit goed is.
Hy kan maar. Die amptenaar se drie vrae was:
“Eerstens, het God regeer voor ons gebore is?” Die sekretaris
antwoord: “Ja!” Die amptenaar vra: “Tweedens, sal God regeer
nadat ons dood is?” Weer antwoord die sekretaris: “Ja!”
Die amptenaar vra: “Derdens, moet ons dan nie God vertrou
vir nou nie, op hierdie skip, in hierdie nag, en met die res van
ons reis nie?” Die bekommerde sekretaris kon die sin van die
vrae insien. Hy het rustig geraak en gaan slaap.
Ons raak dikwels net so vergeetagtig en vreesbevange in ons
daaglikse uitdagings en krisisse. Ons vergeet as’t ware wat ons glo!
Ons optrede sê iets daarvan... Ons vergeet die troue sorg van God
in die verlede, die krag wat hy ons gegee het, die seëninge en sy sorg.
Ons vergeet wat God in Christus gedoen en gegee het. Daarom raak
ons dikwels en onnodig angstig en onseker, selfs vreesbevange
wanneer groot eise vandag aan ons gestel word en môre soos
‘n berg voor ons lê.
Wie regeer oor verlede, hede en toekoms? Die Bybel het net een
antwoord: God! Glo jy dit van harte? Sien dan saam met Johannes
sy visioen van Openbaring 4. God sit op die troon! God regeer!
Hy regeer as Koning van die konings en Here van die here! Hy swaai
die septer! Hy is die middelpunt van die heelal. Skepper van die heelal.
Dié regering van God is vir ons beswil. Ons Verlosser, Jesus Christus,
is ook op die troon, sê Openbaring 5:7.
Slaap rustig, en gryp ook elke nuwe dag aan, om vir Hom te leef.
Hy is God. Hy regeer!
Ernest