Wie heers oënskynlik? Wie bepaal oënskynlik die gang
van die geskiedenis? Wanneer ons met ‘n menslike bril
na die geskiedenis en die wêreld kyk, sou jy maklik kon twyfel.
Wie het die mag in die hand wanneer die chaos en die sinloosheid
dag vir dag rondom ons toeneem? Wie beheer die motorongeluk
waardeur die hegte huisgesin uitmekaar geskeur word? Wie is in
beheer wanneer die mense die aarde so genadeloos aftakel?
Wanneer ruolie en afval in die oseane van die aarde gestort word?
Wanneer kragstasies hulle dodelike gasse laat opstyg en neerdaal?
Wanneer vredespogings deur mense in bloed versmoor?
Oënskynlik is dit die Bose wat regeer. Maar skyn bedrieg!
Die gang van die wêreldgeskiedenis word nie uiteindelik bepaal
deur die Bose nie! Die toekoms rus ook nie in die hande van mense
wat politiek bedryf ten koste van ander mense nie. Die toekoms rus
ook nie in blink ekonomiese insigte nie. Hoe belangrik dit ookal is.
Nog minder word die toekoms uiteindelik bepaal deur bomme,
of die slaankrag van kanonne.
Wie is dan in beheer?
Ten spyte van alles wat in die lewe verkeerd loop, en waarvoor ons
dikwels sélf verantwoordelik is, is dit God wat sy hande rondom alles
hou. Hy is die Alfa en die Omega. Die Eerste en die Laaste.
Die Begin en die Einde – Openbaring 22:13.
God regeer oor die verlede, die hede en die toekoms.
Hy regeer ook oor jou lewe. Jou lewe behoort aan Hom.
Ernest