Daar was ‘n magtige koning wat alle godsdiens
in sy koninkryk met wortel en tak wou uitroei.
Hy wou daarmee probeer bewys dat hý die groot
koning is en dat hý regeer. Nie God nie. Hy vaardig toe
‘n bevel uit dat God, op las van die koning, verbied word
om enige wonderwerke in daardie land te doen.
Dié proklamasie is oral in die koninkryk gehoor,
en teen mure en bome en kennisgewing borde opgeplak.
Het God opgehou om wonderwerke te doen?
Nie vir ‘n enkele sekonde nie! Die son het elke dag weer opgekom.
Mense het wakker geword en die skepping en lewe ervaar. Gebede
is beantwoord. Siek mense het gesond geword. Babas is gebore.
Skynbaar onoplosbare probleme is opgelos. Skuld-vergifnis het
plaasgevind en mense het steeds kinders van God geword.
Ten spyte van al die koning se pogings het God onstuitbaar
voortgegaan met sy goedheid en wonderwerke.
God en sy wonderwerk kan nie gekeer word nie. Al God se werk
is wonderwerk! Mense en magte kan nie aan God voorskryf nie.
Ons kan en moet dit ook nie in gebede probeer doen nie. In sy almag
neem God die inisiatief van hoe en wat Hy wil doen. Hy gebruik selfs
bose en hoogmoedige konings in sy diens. Die Bybel is vol voorbeelde
daarvan. Psalm 2:4 sê: “Hy wat in die hemel woon, lag hulle uit, die Here
spot met hulle.” Sonder dat hulle dit besef. Konings en regeerders van
die aarde, en hoogmoediges, kom verniet teen God in opstand.
Tevergeefs span hulle saam.
Dat dit so is, is ten opsigte van óns lewe genade! En dat dit in óns geval
ook so is, is wonderwerk van God! Want God het Hom ook nie laat stuit
deur mý en joú onwilligheid, en hoogmoed, en opstand, teen Hom nie.
Hy het, ten spyte daarvan, ons soos ‘n brandhout uit die vuur geruk,
en ons gered! Die grootste wonderwerk! Al die bevele wat ook ék in my
hart vasgespyker het teen God, het Hy uitgewis in sy onbegryplike groot
liefde vir my! Goddank! Ook ék kon God nie stuit nie...
Ernest