Een van die groot dinge waarmee ons in hierdie tyd
moes aanpas, is om fisies en opsigtelik maskers te moet dra.
Wat ‘n groot frustrasie is dit nie vir so baie van ons nie.
Hoeveel keer moes jy omdraai om jou masker te gaan haal...
Iemand sê die masker pas haar nogal, want sy spaar nou baie
op grimering. Iemand anders sê hy voel nou nie so skuldig as
hy die karwag in die oë moet kyk nie, want dit is al wat die karwag
net-net kan sien...effens sy oë. Nog iemand sê as jy iemand nou nie
wil groet nie, weet hulle dit nie eers nie, en as jy iets teenoor hulle
wil mompel hoor hulle jou ook nie...maskers...maskers.

Voor God probeer ons egter tevergeefs agter ‘n masker wegkruip.
Fisies en geestelik. Sy almag beteken dat Hy alwetend en
alomteenwoordig is. Hy sien dwarsdeur ons. Psalm 139:1:
“Here, U sien dwarsdeur my, U ken my.” Hy ken ons ware self.
Ons hele lewensloop is oop en bloot voor Hom. Ons sit en staan.
Ons kom en gaan. Elke draai, elke dag. Ons gedagtes nog voordat
dit by ons opkom. Ons woorde nog voordat ons dit praat. Hy sluit
ons in van alle kante. Hy neem ons in besit. Dit is aan die een kant
erg vir ons, en aan die ander kant bevrydend. Bevrydend om te
weet dat God reeds my sonde ken, en dat ek nie die “nuus” by
Hom moet gaan breek daaroor nie. Hoe sou ek dit nie dán probeer
wegsteek het nie... Nou kan ek in groter vrymoedigheid na Hom
gaan en pleit om vergifnis omdat Hy ook my hart reeds ken.

Dit is sinloos om van God weg te hardloop, of iets vir Hom te
probeer wegsteek of stil hou. Waarom sou die skepsel vir die
Skepper weghardloop? Hoe kan die pottebakkersklei die hand
van die Pottebakker ontglip?
God het ons kunstig aanmekaar geweef. Hy ken ons herkoms
en Hy ken ons toekoms. Elke detail van ons lewe. Elke sel.
Elke haar op ons kop tel Hy. Elke aar, senuwee, sening en been.
Tot in ons murg ken God ons. Goddank! Dankie dat Hy dwarsdeur
ons kyk. Hy sien ons sonde en bring ons in sy liefde terug na Hom.
Nogtans het Hy ons lief, al sien Hy alles! Dit is evangelie!

Ernest