Psalm 8:4-7 en 10: “As ek u hemel aanskou,
die werk van u vingers, die maan en die sterre waaraan
U ‘n plek gegee het, wat is die mens dan dat U aan hom dink,
die mensekind dat U na hom omsien? U het hom net ‘n bietjie
minder as ‘n hemelse wese gemaak en hom met aansien en
eer gekroon, U laat hom heers oor die werk van U hande,
U het alles aan hom onderwerp... Here, ons Here hoe
wonderbaar is U Naam oor die hele aarde!”

Die heelal het nie toevallig tot stand gekom nie. Dit het alles
begin toe God alles uit niks geskep het. Ook lewe...uit niks.
Psalm 8 beskryf hoe onvoorstelbaar wonderlik God se skepping is.
Hy skep die hemelruim met sterre en planete, ruimte , krag, tyd, lig,
diere...en mense!
Net die grootte van die makrokosmos laat ons stom! Astronome sê
daar is meer as 1000 miljoen melkwegstelsels. Elkeen gemiddeld
20 000 ligjare in deursnit. Baie van hulle is meer as 2 miljoen ligjare
van mekaar af. Ondenkbaar!

‘n Piepklein deel van hierdie enorme skepping is die planeet Aarde.
En tog is die aarde in die kleinste detail vol van soveel skoonheid!
Dit slaan jou asem weg. Die sonsondergang. Die voëls en wilde diere.
Blomme, berge, die see. Alles in soveel aangrypende majesteit.

God het niks hiervan nodig gehad nie. Hy het dit as’t ware as ‘n
luukse geskep, vir sy genieting en tot sy eer. Bloot die bestaan
daarvan verheerlik Hom. Daarom het alles, ook mý lewe, ‘n doel.
Ons is geskep sodat...! Sodat ons tot sy eer mag leef. Sodat ons
met Hom in gesprek kan tree en sy liefde beantwoord, want God
is liefde – 1 Joh. 4:8. Sodat ons sy beelddraers kan wees. Sodat ons
God se verteenwoordigers in hierdie wêreld kan wees.
Genesis 1:27: “God het die mens geskep as sy verteenwoordiger,
as beeld van God het Hy die mens geskep, man en vrou het Hy
hulle geskep.”

Niemand hoef ooit te twyfel of die lewe sinvol is nie.
Die sinvolste wat ooit kon gebeur het, is dat God geskep het!
En die sinvolste ten opsigte van jóú is dat God jou vir Hóm geskep het!
Jou totale lewe het in die diepste sin van die woord sin voor God en
sin vir God! God skep jou vir Hom! Onvoorstelbaar wonderlik!
Ondenkbaar wonderlik! God skep hierdie wêreld, vir Hom, en skep
jou in hierdie wêreld, vir Hom. Die lewe, hierdie dag, en elke dag van
jou lewe is ondenkbaar belangrik en kosbaar!
Dit is ‘n gawe uit die hand van die Skepper, jou Skepper.
Néém dit! Lééf dit!

Ernest