Christus het nie maar net aarde toe gekom om ‘n ideaal
of ‘n nuwe stelsel van idees te verkondig nie. Hy het gekom om
vir die sondige wêreld te sterf. Hy was nie bloot ‘n baie goeie
humanis nie, maar bo alles die Gekruisigde! Daarom kan ‘n mens
Christus nooit sonder sy kruis verstaan of volg nie.

Wanneer Paulus sy boodskap aan die Korintiërs opsom,
dan sê hy hierdie krities belangrike: “Ek het my voorgeneem om
met julle oor niks anders te praat nie as oor Jesus as die Christus,
en wel oor Hom as die gekruisigde” – 1 Kor. 2:2.
In 1 Kor. 1:18 skryf Paulus dat die boodskap van Jesus se kruis na
onsin sal klink vir dié wat verlore gaan, maar dat dit die krag van
God is vir ons wat gered word.

Die boodskap van die kruis is inderdaad vir baie mense onsinnig.
Dit is die boodskap dat ons volkome van God afhanklik is vir ons redding.
Juis dít druis immers in teen die mens se sondige selfstandigheid, dat die
mensdom dink dat ons sonder God kan klaarkom. Hulle kan of wil nie
aanvaar dat die mensdom so sondig is dat ons ‘n Verlosser nodig het nie.
Dié enigste Verlosser! Vir die wêreld wat dit nie wil aanvaar nie, is die kruis
‘n kruk wat mank swakkelinge kan gebruik, as hulle wil...
Maar dit hoort verseker nie in die lewe van “sterk” mense wat onafhanklik
kan lewe nie. Só word geredeneer.

Mens kan Christus nie aanvaar sonder om die kardinale betekenis van die
kruis te aanvaar nie. Almal van ons is buitendien mank. Ons is sonde-kreupel.
Ons het die kruis van Christus nodig om te lewe! Nie net om te oorleef nie.
Dit is nie maar net ‘n kruk-kruis om jou deur die lewe te help nie.
Dit is die kruis tot redding vir elkeen wat glo! Dit is broodnodig,
lewens-noodsaaklik om enigsins te kan lééf!

Ernest