Martin Luther, die groot kerkhervormer, het altyd beklemtoon
dat die boodskap van Christus onlosmaaklik verbind is met die kruis.
Sonder die kruis kan die vrug van verlossing en vergifnis nooit
gesmaak word nie. Christus het die oorwinning behaal!
Christus het die stryd teen die dood en die Bose oorwin. Hy skenk
die lewe en vrede aan die wat in Hom glo. Hy het dit egter nie
gedoen deur geweld nie, maar deur sy eie dood aan die kruis!
Hy sterf om te oorwin!

Daarom is Christus by uitstek die Gekruisigde! Luther het geskryf:
“Of ek wil of nie, altyd wanneer ek die Naam Christus hoor,
sien ek in my hart die beeld van die Man aan die kruis.
Op Goeie Vrydag het Hy gely wat ons moes gely het: die straf;
en Hy het volbring wat ons moes volbring het: die gehoorsaamheid
tot die dood toe, ja, die dood van die kruis.”

Dit is die taal van Hebreërs 5:8 wat sê dat Christus, hoewel Hy die
Seun was, deur alles wat Hy gely het, moes leer wat gehoorsaamheid is.
Vers 9 sê: “En toe Hy volmaaktheid bereik het, het Hy vir almal wat aan
Hom gehoorsaam is, die bron van ewige saligheid geword.”
Volgens Luther bring hierdie ewige reddingsdaad van Christus –
ons “bron van ewige saligheid” – natuurlik vir ons, die verlostes,
loutere blydskap! Daarom sê Luther: “Verbly julle in die Heer se Naam,
die hoë, die wonderbare Naam! Verheerlik sy genadedaad en
goddelike reddingsdaad, wat Hom soveel gekos het.”

Hoe kan dit ook anders op hierdie Goeie Vrydag!
Daarom is dit Goeie Vrydag!
Die lyding en sterwe van Jesus roep ons óók op tot lof!
Sy dood maak ons óók dankbaar!
Want sy kruis maak ons kinders van God!

Ernest