Ons kan die wesentlike boodskap van die kruis op een van
slegs twee maniere verstaan. Dit is óf vir jou onsin, óf die krag van God
wat jou red – 1 Kor. 1:18. Alles hang dus af van hoe jy die kruis sien.

Die bekende Hollandse leraar, Okke Jager, vertel van ‘n man en ‘n seuntjie
wat alleen in ‘n huisie gewoon het na die afsterwe van die moeder van die kind.
Die pa het ‘n silwer sigaret houer gehad waaraan hy baie waarde geheg het.
Op ‘n dag kom hy tuis na werk en soek na die silwer sigaret houer. Toe hy dit
uiteindelik vind, na ‘n lang soektog, sien hy tot sy groot ontsteltenis dat iemand
met ‘n skerp voorwerp op die deksel gekrap het.
‘n Onsamehangende gekrap wat soos letters wil lyk. Hy roep toe sy seuntjie
en vra woedend aan hom of dit hy was wat dit gedoen het. Die kind het gesien
hoe kwaad sy pa is en bleek geword, en gestamel dat dit wel hy was wat dit
gedoen het. Die man het sy lyfband afgehaal en die seuntjie ‘n groot pak slae
gegee. Uiteindelik vra hy aan die seuntjie waarom hy dit gedoen het?
“Ek wou vir Pappa ‘n boodskap skryf”, huil hy deur sy trane.
Ek wou skryf: “Mý liewe Pappa!”
Ons kan net dink hoe pa en kind moes voel na die gebeure...

Só, sê Okke Jager, het God ook sy boodskap op aarde kom “uitkrap”,
met sy Seun se kruis. Wie nie weet wat dit “sê” nie, sien in die kruis ‘n
sinlose gekrap. ‘n Stuk loutere onsin. ‘n Neerlaag in plaas van oorwinning.
Maar dié wat wéét, en gló, sien God se boodskap: “Mý liewe kind!”
Hierdie boodskap is een van liefde, soos die van die seuntjie aan sy Pappa.
Hierdie boodskap is die boodskap van ons Vader God,
die boodskap van volmaakte liefde, en verlossing,
en God se oorwinnigs-krag aan ons!

Ernest