Romeine 6:8: “Ons het saam met Christus gesterwe;
daarom glo ons dat ons ook saam met Hom sal lewe.”
Met die opstanding van Jesus uit die dood plaas God self
sy seël van goedkeuring op Jesus se versoeningswerk.
Met die leë graf sê God: dit is goed. Dit is volbring!

Met die Paas-oggend verbly God Hom uitermate oor sy
oorwinnings werk oor die Bose in Christus. Daarom het die
Christene begin om hulle “sabbat” op ‘n Sondag te vier.
Want die Messias hét gekom! Hulle het nou nie meer saam
met die Joodse verwagting geleef dat Hy nog móét kom nie.
Só word Sondag, die opstandingsdag, sedertdien deur die
oorgrote meerderheid Christene gevier as die dag van God
se uitroepteken oor die verlossingswerk in Jesus Christus
wat plaasgevind hét! Sondag is nie net meer ‘n dag om te
rus of sekere Sabbats-wette te onderhou nie, maar om
op te staan van die ou lewe tot die nuwe lewe en dit keer
op keer te vier! Dit is ‘n dag om bogenoemde Rom. 6:8 te vier.

Daarom is die Sondag vir ons as Christene bo alles ‘n dag van lof,
‘n dag waarop ons terugkyk na Jesus se leë graf, ‘n dag waarop
ons ons verbly en vooruitkyk na die opstanding van ons eie
liggaam en die ewige lewe saam met God in ‘n verheerlikte liggaam!

Vir al hierdie dinge is ‘n Sondag natuurlik heeltemal te kort!
Die vier en twintig uur daarvan kan dit nie bevat nie.
Dit loop in kinders van God se lewe oor na elke dag van die week.
En elke dag van die week word ewe belangrik in jou lewe vir God.
Nie net ‘n “sabbat” of opstandingsdag nie. Hoe opwindend!
Elke dag word die lewe en die opstanding van Jesus gevier,
en gelééf!

Ernest