Dat Jesus op die derde dag opgestaan het uit die dood,
word in al vier die Evangelies beklemtoon, naamlik in
Matteus 28:6, Markus 16:6, Lukas 24:6 en Johannes 20:1
en verder.
Waarom word dit so benadruk? Daar is groot heilswaarde
in hierdie feit. Dit verseker ons dat Jesus se lyding, dood,
en baie spesifiek ook sy opstanding ‘n historiese werklikheid is.
Dit is werklik baie belangrik. Jesus word gebore in die geskiedenis,
leef in die geskiedenis, ly in die geskiedenis, sterf in die geskiedenis
en staan op uit die dood in die geskiedenis!
In dit alles betree Hy alle vlakke van menswees, selfs tot in die dood,
en Hy triomfeer dan daaroor in sy opstanding! Só intens, en só enduit,
identifiseer Hy met die mens, tot ons heil en tot ons verlossing!
Waarom staan Jesus op die derde dag op uit die dood, óók volgens
die Skrifte? Sodat daar geen twyfel kan wees nie. Jesus was werklik dood!
Hy was drie dae in die graf. Dit was nie ‘n skyndood nie. Hy was letterlik dood,
werklik dood! Juis daarin word die dood oorwin! Want op die derde dag staan
Jesus op uit die dood en die graf is leeg, letterlik leeg, werklik leeg!
Dit is historiese werklikheid! Dit was vir almal duidelik dat Jesus dood was.
En dan verskyn Hy aan sy dissipels...en selfs aan meer as vyfhonderd
van sy volgelinge op een keer! – 1 Kor. 15:6.
Ons kan dit werklik glo! Dit is net soveel ‘n feit as wat die skepping ‘n feit is.
Net soveel as wat jy die heel eerste vers in die Bybel kan glo, net soveel kan
jy glo dat Jesus uit die dood opgestaan het! En net soveel kan jy glo dat Hy
wéér kom, en dat die nuwe hemel en die nuwe aarde kom!
Want dit is God!... wat dit gedoen het, steeds doen en gaan doen!
Ernest