Die opstanding van Jesus uit die dood, en ons opstanding
saam met Jesus uit die dood, is die essensie van ons geloof.
Paulus beklemtoon dit en redeneer in 1 Kor. 15:14-19 daaroor.
Sy redenasie is min of meer as volg: As Christus nié opgewek is nie,
is ons prediking en geloof sonder inhoud. Dan is ons nog steeds
gevange in ons sonde. Dan is die wat in Christus gesterf het, verlore.
Dan is ons eenvoudig die bejammerenswaardigste van alle mense!

Is ons? Nee! Goddank nie! Ons sou wees as ons nie in die opstanding
glo nie. Maar nou!... Christus hét opgestaan! Dit, en presies dít,
kan ons glo, moet ons glo, en glo ons inderdaad!

Karl Barth het by geleentheid gesê: “Wil jy glo in die lewende Christus?
Jy kan dit alleen doen as jy aan sy liggaamlike opstanding glo! Dit is die
inhoud van die Nuwe Testament. Dit staan jou natuurlik vry om die
opstanding van Jesus uit die dood te verwerp as onsin. Maar jy kan dit
nie wysig of glo dat die Nuwe Testament iets anders vertel nie. Ons kan
dit aanneem en glo, of weier, maar ons kan dit nie verander nie.”

Dit is presies wat die Nuwe Testament sê: Jesus het letterlik en liggaamlik
uit die dood opgestaan. So ‘n wonder is net vir God moontlik, en dit is wat
God gedoen het! So oorwin God in ons plek die dood, ter wille van ons
ewige lewe saam met Hom.

Ons geloof vra nie om God se wonder te verklaar nie, maar dit te glo.
Ons moet in ons geloof die wonder van God wonder van God laat bly!
Ons moet ons eenvoudig daarin verbly!
Want: Omdat Jesus opgewek is en uit die dood kan ons ook letterlik en
liggaamlik opgewek word uit die dood!
In Hom het ons ook reeds die dood oorwin!
God se wonder-werk is wonder-lik!

Ernest