Die wonder van Jesus se opstanding uit die dood kan ons
nie verklaar nie. Behalwe dat dit eenvoudig ‘n wonderwerk
van God is! En vir God is alles moontlik! Niemand wat al werklik
vir drie dae dood was het tog ooit herleef om daarna vir ewig te leef nie!
Selfs Lasarus wat deur Jesus self opgewek is, sou later weer sterwe.
Die engele het vir die vroue by die graf van Jesus gesê:
“Waarom soek julle die Lewende by die dooies?” Amper verbaas...
asof hulle wou sê: Hy is mos nie hier nie! Hy is uit die dood opgewek!
- Lukas 24:5-6.
Ons moet dit glo en daarvan getuig! Dit is ons geloof en ons roeping!

‘n Treffende geloof hierin vind ons in ‘n gebeure waar Christene hiermee
gekonfronteer is. Dit is die gebeure wat in ‘n Russiese dorpie afgespeel het.
Na die Bolsjewistiese rewolusie is die plaaslike leier van die Kommunistiese
party gestuur om die mense van die dorpie te oortuig van die deugde van
die Kommunisme. Hy moes sy bes doen om hulle te oortuig dat hulle geloof
en godsdiens die “opium vir die volk” is, volgens die woorde van Karl Marx.
Nadat die Kommunis hulle byna twee ure lank vurig toegespreek het, sê hy
ewe minagtend vir die plaaslike Christelike pastor:
“Ek sal jou vyf minute gee om hierop te antwoord.”
Die pastor se antwoord was: “Ek het nie vyf minute nodig nie.
Vyf sekondes sal genoeg wees!” Daarop bestyg hy die verhoog en gee die
Opstanding-groet waarmee Christene mekaar gegroet het:
“Die Here het opgestaan!” Soos uit een keel kom die juigende koor van die
plaaslike inwoners in die dorpie: “Jesus het waarlik opgestaan!!”

So het die vroeë Christene mekaar gegroet. Só het hulle met oortuiging
teenoor die wêreld getuig! Want só is dit! En só getuig ons vandag nog!
Die Here het opgestaan! Jesus het waarlik opgestaan!

Ernest