‘n Gesprek tussen Auguste Comte, ‘n Franse filosoof,
en Thomas Carlyle, ‘n Skotse skrywer het soos volg verloop:
Comte: “Ek gaan ‘n nuwe godsdiens begin wat die geloof in Jesus
Christus sal verdring. Dit sal geen misteries en verborgenhede bevat nie.
Dit sal so duidelik en voorspelbaar wees soos die vermenigvuldigingstafel.
En die naam daarvan sal wees: Positivisme.”
Carlyle: “Indrukwekkend, meneer Comte, heel indrukwekkend. Ek sou sê
u nuwe godsdiens het moontlik ‘n kans op oorlewing. Al wat u hoef te doen,
is om te praat soos geen mens ooit vroeër gepraat het nie; om te lewe soos
geen mens nog ooit geleef het nie; om gekruisig te word en op die derde dag
weer op te staan. En dan moet U nog net die wêreld laat glo dat u vir ewig lewe.
Dan staan u godsdiens ‘n goeie kans om te vorder.”
Die boodskap van die evangelie is voorwaar uniek. Niemand kon Jesus dit nog
ooit nadoen nie. Die graf van die Fransman Comte, en van alle ander mense,
is vol doodsbeendere en stof.
Jesus se graf is leeg! Daar is geen doodsbeendere nie. Want, sê Handelinge 2:31:
“Hy is nie aan die doderyk oorgelaat nie, en sy liggaam het nie vergaan nie.”
Hy het uit die dood opgestaan. Die graf is leeg. Hy leef!
Ernest