Die troos en krag van die opstandings-evangelie is dat dit vir óns geskied!
Ons kry die vrug daarvan. Omdat Jesus opgestaan het, is Hy nie meer “gebonde”
aan sy aardse liggaam nie. Hy is nie “beperk” tot ‘n sekere land op aarde of ‘n
sekere tyd in die geskiedenis nie. Hy is nou altyd en orals saam met ons!
Hy is nooit afwesig nie. Hy het nie weggegaan om nooit weer terug te keer nie.
Die wonderlikste wat ons oor Jesus kan sê is dit: Hy lééf! Hy is hiér! By ons!
Jesus het ons nie as weeskinders agtergelaat nie.

Aan die Emmausgangers wat met somber gesigte oor sy dood geloop en praat
het, sê Jesus: “Wat ‘n gebrek aan begrip en wat ‘n traagheid van gees! Glo julle
dan nie al die dinge wat die profete gesê het nie?” – Lukas 24:17 en 25.
Daar was hulle aan die rou oor Jesus se dood terwyl Hy self by hulle is!
Self saam met hulle op pad is!

David Livingstone, die beroemde ontdekkingsreisiger, het met hierdie
waarheid geleef. Hy het eenkeer gesê: “Moet ek vertel wat my versterk het
gedurende al die jare van my ontdekkingsreise – in ballingskap onder mense
wie se taal ek nie kon verstaan nie en wie se gesindheid teenoor my altyd
onvoorspelbaar was en dikwels vyandig was? Dan moet ek vir julle dit sê:
Wat my getroos en krag gegee het, was hierdie woorde: “Ek is by julle al die
dae tot aan die voleinding van die wêreld” – Matteus 28:20. Op hierdie
woorde het ek alles gewaag, en dit het my nooit in die steek gelaat nie.”

Jesus is by ons! Gister, vandag en môre! Jesus se opstanding het dit alles
moontlik gemaak. Leef met hierdie belofte in alle omstandighede van jou lewe.
Dit is waar. Jesus sal jou nooit alleen of in die steek laat nie.

Ernest