1 Petrus 1:3: “Nou het ons ‘n lewende hoop”
Ons lewende hoop is gebou op Jesus se opstanding.
Lewende hoop is hoop wat in die grootste skaduwee van
die lewe steeds kan jubel oor die lewe saam met God.
Dit is gegrond op die opstanding van Jesus uit die dood
en ons opstanding uit die dood saam met Hom.
Die datum is 8 April 1945. Die plek is die dodesel in die
verskeurde Duitsland in die Tweede Wêreldoorlog.
Die geleentheid is ‘n erediens en die gemeente is ‘n aantal
terdoodveroordeeldes wat saam wag op die galg.
Die prediker is ‘n Duitse teoloog wat vanweë sy
geloofsoortuigings in die tronk is en binnekort tereggestel
gaan word, by name Dietrich Bonhoeffer. Sy teks uit die
Woord van God is 1 Petrus 1:3:
“In sy groot ontferming het God ons die nuwe lewe geskenk
deur die opstanding van Jesus Christus uit die dood. Nou het
ons ‘n lewende hoop...”
Bonhoeffer het beswaarlik klaar gepreek en die slotgebed gebid,
toe die seldeur oopswaai en die soldate hom kom haal het.
Al die medegevangenis het geweet dit was hulle predikant se
doodsaankondiging. Hulle het geweet wat dit beteken as hulle
jou kom haal. Dit was immers die dodesel waarin jy alleen maar
op die dood gewag het. Bonhoeffer sou weggeneem word om
gehang te word.
Hy het ‘n vriend van hom eenkant geneem om met hom te praat.
Dit is dieselfde vriend wat later hierdie gebeure op skrif gestel het.
Hy het vir die vriend gesê:
“My vriend, dit is dan die einde van hierdie,
maar vir my egter die begin van die lewe.”
Die dag daarna is Bonhoeffer by Flossenbürg gehang...
kort voor die oorlog verby was.
Só lyk lewende hoop, wat selfs in die skadu van die galgdood
jubel oor die lewe!...saam met God!
Gegrond op die opstanding van Jesus uit die dood en ons
opstanding saam met Hom uit die dood. Dit staan absoluut vas
op God se genade en die nuwe lewe in Jesus Christus.
Daarom is dit lewend! Lewende hoop!
Ons gaan almal êrens, eenmaal, hiér, ‘n einde tegemoet.
Nou het ons ook die lewende hoop in Christus!
Ernest